Tien nuwe wyke is deur die Wyn- en Spiritusraad se afbakeningskomitee goedgekeur as terreine met eiesoortige grond en klimaat. Dit sluit aan by vele ander voorbeelde van gebiede in die Kaapse wynland met wynterreine, oftewel terroir, met merkwaardige eiesoortigheid.

Hierdie nuwe afbakenings sal bydra tot nog meer interessante resultate by die Novare SA Terroir Wyntoekennings. Hierdie eksklusiewe wynkompetisie, nou in sy 14de jaar, is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSA) oorgeneem as ‘n gevestigde gebeurtenis in die plaaslike wynbedryf. Die doel is om hierdie oorsprong-gebaseerde wynkompetisie se regmatige erkenning van top wyne uit spesifieke terreine uit te bou.

Nuwe wyke geïdentifiseer

Vyf van die nuwe wyke is deur die afbakeningskomitee in die Robertson-wyndistrik geïdentifiseer, naamlik Ashton, Goedemoed, Goree, Goudmyn en Zandrivier.

In die Swartland-distrik is twee wyke toegevoeg, naamlik Paardeberg en Paardeberg-Suid. Die res is Agter-Paarl in die Paarl-distrik, Springfontein Rim naby Stanford in die Walker Bay-distrik, en Nieuwoudtville in die Namakwa-distrik van die Noord-Kaap.

Slegs wyne wat by die Wyn en Spiritusraad gesertifiseer is as wyn van oorsprong van ʼn spesifieke wyk, ʼn distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, ʼn landgoed-geproduseerde wyn en enkelwingerdwyn, mag deelneem. Dit is jaarliks insiggewend om te sien watter terreine topwyne van watter kultivars en style oplewer. Die volume-vereiste vir inskrywings is slegs 180 liter.

Erkenning vir Novare-wenners

Die nasionale wenners van die Novare SA Terroir Wyntoekennings word by die toekenningsfunksie met sertifikate vereer. Die wenners in die kategorie-gebiede word in die amptelike dokumentasie aangekondig en sertifikate kan bestel word. Bottelseëls kan vir beide die nasionale wenners en distriks-/wykwenners bestel word.

Novare Terroir-trofeë vir die top enkelwingerdwyn, top landgoed, top wynarea, top terroirprodusent en top wyn van die kompetisie, word ook toegeken.

Inskrywings vir die kompetisie sluit op 11 Junie en die afleweringsdatum van monsters vir beoordeling, is op 13 en 14 Junie. Die beoordeling vind van 2 tot 5 Julie plaas en die toekenningsfunksie wat deur Novare aangebied word, is op 1 Augustus. – Mediaverklaring