Die laslapprojek van die Vroue Landbou-Unie op Delareyville kan nou nóg groter hoogtes bereik danksy die aankoop van ondermeer tien naaimasjiene en ‘n omkapmasjien deur NWK se korporatiewe bemarking en kommunikasie-afdeling.

Vroue van dié VLU-tak maak sowat 20 vroue in die Atamelang-gemeenskap, waarvan die meeste werkloos is, touwys in naaldwerk sodat hulle ‘n bykomende inkomste met hulle handewerk kan verdien.

‘n Nederige begin

“Dit het bloot as net nog ‘n VLU-vergadering begin. Een van ons studierigtings is gemeenskapsontwikkeling en ons het ‘n paar plaaslike vroue genooi om die vergadering by te woon waartydens ons hulle geleer het om pannekoek te bak en drasakke uit oorskiet stukke lap te maak,” het Tillie Dupper, voorsitter van die VLU-tak op Delareyville, verduidelik.

“Almal het dit baie geniet en was só begeesterd dat ons net aangehou het. Ons het stukke afvallap by vriendinne en ander VLU-lede gebedel en die vroue toe geleer om dekens te maak,” het sy bygevoeg.

Die vroue kom gemiddeld twee keer per maand op ‘n plaas naby Delareyville bymekaar waar Dupper en ander lede van die VLU-tak hulle naaldwerk leer. Voor NWK se skenking, moes die vroue met die hand stikwerk doen en Dupper en haar span het groot drome gekoester om die vroue op masjiene te leer werk.

“Die Verwestreek se konferensie het in Maart vanjaar plaasgevind en die Delareyville-tak het van die vroue se produkte hier uitgestal. Ek was beïndruk en NWK het die geleentheid gesien om moontlik betrokke te raak,” het Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van korporatiewe bemarking en kommunikasie by NWK, gesê.

Vennote in die landboubedryf

Dupper het ‘n lys van benodigdhede saamgestel wat ondermeer die masjiene, skêre, lostrekkers en snyblaaie ingesluit het, wat NWK toe aangekoop het. Die waarde van die skenking beloop R71 700.  

NWK se betrokkenheid by die NWVLU strek sover terug as 2007 en die maatskappy borg sedertdien die drie streke (Sonneblom-, Verwes- en Platinastreke) se jaarlikse konferensies, asook die jaarlikse provinsiale kongres.

“Die vroue speel ’n kardinale rol in die boerdery en is in die meeste gevalle die produsent se regterhand en steunpilaar. Vir NWK is dit noodsaaklik om die vroue ook as vennote in ons besigheid te sien en daarom ploeg ons ook terug in hulle,” het Bezuidenhout bygevoeg.

Trudie van der Merwe en Sara Kashipolo.

Nuwe hoogtes

“Die projek het groot potensiaal en vroue wat hier opgelei word kan in die toekoms ‘n groter inkomste uit die verkoop van hul produkte verdien. Die rol wat die NWVLU Delareyville-tak se lede in die opleiding van hierdie vroue speel is enorm en hulle doen dit vir die liefde van die saak. Die vroue word bemagtig en het ’n doel in die lewe.”

NWK het die projek die afgelope Vrydag besoek. “Dit was ‘n bewys dat jy nie noodwendig die mooiste, nuutste en modernste gebou tot jou beskikking hoef te hê nie. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg,” het Bezuidenhout gesê.

“Ons kan nie genoeg dankie sê nie. NWK se skenking plaas ons projek op ‘n nuwe vlak,” het Dupper gesê.

“Die lewe is moeilik, want daar is nie werk nie. Ons het die Here gevra vir uitkoms. Ons het genooit gedink ons sal kan naaldwerk doen nie, maar die Here is goed vir ons almal en het vir ons mense gegee om te help met ‘n toekoms,” het een van die vakleerlinge, Elsie Selaledi gesê. – Persverklaring, NWK

Diegene wat oortollige lap of wateersel vir die laslapprojek wil skenk, kan Dupper skakel by 083 384 1940. Skakel Johan Bezuidenhout vir navrae by 018 633 1368 of stuur vir hom ‘n e-pos by jbezuidenhout@nwk.co.za.