NWK Beperk het Tebogo Benedict Modise met ingang van 1 Junie 2018 as hul direkteur van transformasie aangestel. Sy aanstelling in hierdie nuwe pos is ’n verdere stap in die bestuur van die hernude NWK-sakestrategie met die doel om betekenisvolle waarde toe te voeg tot die Suid-Afrikaanse landbou- en voedselwaardeketting as ’n dinamiese en kliëntgerigte vennoot in ’n veranderende sake-omgewing.

“Ons is veral trots dat ons ’n interne kandidaat in hierdie sleutelrol kon aanstel. Modise is goed gekwalifiseer vir die posisie en baie kundig oor die omvang vanons diverse sakebedrywighede. Hy verdien die bevordering tot hierdie pos as die volgende stap in sy loopbaan. Ons sien uit daarna om hom as ’n lid van die uitvoerende bestuurspan by NWK te hê, en die waarde wat hy in die rol gaan toevoeg.

“Hy het reeds bewys dat hy toegewyd is aan NWK en die sukses van ons besigheid. In die nege jaar wat hy al by NWK is, het ons gevind dat Modise hom vereenselwig met ons waardes en visie om waarde tot die hele Suid-Afrikaanse landboulandskap toe te voeg,” sê Theo Rabe, hoof uitvoerende beampte van NWK Beperk.

Modise het meer as 20 jaar se bestuurservaring in verskeie nywerhede, met ondervinding in beide private en regeringsinstellings. Hy het in 1997 as plaasbestuurder by Glen Agricultural College in die Vrystaatse Departement van Landbou gewerk.

Hy was van 2001 tot 2004 werksaam by die Departement van Korrektiewe Dienste in Barberton as bestuurder van die produksiewerkswinkel en landbou. Hy het tydens sy verblyf in Barberton ook as streekkoördineerder van die produksiewerkswinkel en landbou vir Limpopo, Mpumalanga en die Noordwes-streek opgetree.

Hy het van 2004 tot 2009 as sentrum-koördineerder vir operasionele ondersteuning by Mogwase Korrektiewe Sentrum gewerk. Hy het in 2009 as landboukundige by NWK aangesluit en is in 2012 tot die bestuurder van ontwikkelende landbou bevorder.

Modise het ’n nasionale diploma in landboubestuur by Taung Landboukollege en ’n B-Tech-graad in landboubestuur by Technikon Vrystaat verwerf. Hy is veeltalig en doen gemaklik sake op alle vlakke in minstens ses van Suid-Afrika se nasionale tale. Hy studeer tans vir ’n meestersgraad in volhoubare landbou by die Universiteit van die Vrystaat, wat hy vanjaar wil voltooi. – Persverklaring