Prof Ken Pettey en dr Sherike van der Merwe (Foto: Gordon Harris Photographic Studio)

Die Fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria en die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) oorhandig jaarliks ’n prys aan die veeartsenykunde-student wat die beste gevaar het in kleinvee-kuddegesondheid en -produksie. Dr Sherike van der Merwe het vanjaar dié eer verwerf. Die trofee is op ’n toekenningsgeleentheid aan die einde van November deur prof Ken Pettey van die Fakulteit Veeartsenydienste oorhandig.

Volgens een van Sherike se eweknieë, is sy een van die inspirerendste jong veeartse wat tans die veterinêre bedryf betree. Sy het grootgeword in die hartjie van die Vrystaat waar sy skoolgegaan en gematrikuleer het. Sy het ’n groot passie vir die landbou en het haar eerste graad – B.Sc Agric in Vee-, Wild-, en Weidingkunde by die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Sy het daarna besluit om haar lewenslange veeartsenydroom by die Universiteit van Pretoria, Onderstepoort aan te pak.

Sy was uit die staanspoor bedrywig en het ’n verskil by Onderstepoort begin maak. Sy het geld ingesamel vir liefdadigheid op die Joolkomitee, uitgeblink op die sportveld en was onder andere ondervoorsitter van die koshuis se huiskomitee.

Haar groot liefde vir kleinvee het begin toe sy vier jaar lank ondervoorsitter van die Onderstepoort Produksiediergroep was. Sy was ook voorsitter van die Skilderbokgroep, waar sy geleentheid vir medestudente probeer skep het om hul praktiese ervaring in die kleinveegebied te verbeter. Die Ondertepoort Produksiediergroep word deur studente bestuur en streef daarna om jong opkomende produksiedierveeartse meer van die landbou te leer en waar hulle buite hul veterinêre verantwoordelikhede betrokke kan raak.

Sy het haar studenteloopbaan by Onderstepoort op ’n hoogtepunt afgesluit deur haar graad met lof te verwerf, sy was een van die top tien beste kliniekstudente, en sy het ’n dienstoekenning van Onderstepoort ontvang. Sy het ook die voorreg om die NWKV se prys vir beste kleinveestudent vir 2018 te ontvang.

Sherike sal graag ’n gemengde praktyk wil betree, waar sy op kleinvee wil konsentreer. Sy glo daar is baie ruimte vir veterinêre navorsing en opleiding vir kleinveeboere. Haar passie en geesdrif vir kleinvee gaan nog ’n groot impak maak op die veterinêre en landboubedryf. – NWKV