NWKV-kongres: Verantwoordelik en volhoubaar vir die toekoms

102
Dr George de Kock ontvang die Goueram-toekenning wat deur Guillau du Toit oorhandig is.

Estimated reading time: 8 minutes

Die jaarlikse kongres van Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het onlangs plaasgevind. Die tema het gelui “Ontwerp die toekoms” en het daarop gefokus om die toekoms verantwoordelik en volhoubaar te benader.

Tegnologie is vir die geleentheid ingespan om die sprekers, gaste en afgevaardigdes virtueel bymekaar te bring, terwyl ʼn handjievol persone die kongres fisies bygewoon het.

Guillau du Toit, wat die NWKV die afgelope ses jaar as nasionale voorsitter gelei het, het vanjaar uitgetree. Billy van Zyl volg hom op. HB van der Walt is as die nuwe nasionale vise-voorsitter (kommersieel) verkies terwyl hy steeds die posisie as NWKV-voorsitter van die Oos-Kaap vul. Sipiwo (SK) Makinana bly in sy posisie as die nasionale vise-voorsitter (kommunaal) aan.

Kom ons kyk na die toekoms

Guillau het in sy openingsrede oor die effek van Covid-19 op die hele wolwaardeketting – plaaslik sowel as internasionaal – gepraat. Hy het ook na die afgelope jaar as ʼn “jaar van standaarde en oudits” verwys. Hierdie aspek was uiters uitdagend vir produsente omdat hulle nie daagliks direk met sake in die bedryf te make het nie. Volgens Guillau word sekere standaarde as ʼn bemarkingsinstrument gebruik en nie aangewend waarvoor dit in die eerste plek daargestel is nie.

Met betrekking tot die internasionale vraag in handel, wat al hoe meer aandring op standaarde wat berus op dierewelsyn, arbeidspraktyke, en omgewingsvriendelike produksie, het hy die volgende gesê: “Wat my bekommer is dat dierewelsynaktiviste al hoe meer druk op die produksieproses plaas, wat dit ál moeiliker gaan maak vir produsente om aan sekere kriteria van die proses te voldoen. Daarom is dit baie belangrik dat ons die Cape Wools SA Volhoubaarheidstandaard, wat op die NWKV se Kode van Beste Praktyke gebaseer is, ondersteun.”

NWKV
Sipiwo (SK) Makinana, nasionale vise-voorsitter van die NWKV (kommunaal), Guillau du Toit en Billy van Zyl wat Guillau as nasionale voorsitter van die NWKV opvolg.

Hy het ook voorgestel dat ʼn nasionale liggaam oor al die voorgestelde standaarde gestel word en bygevoeg dat nasionale sertifikasie wat steeds internasionaal aanvaarbaar is, voorkeur onder produsente op grond van die Kode van Beste Praktyke geniet. 

Guillau het ook na die Predasiebestuursforum (PMSA), wat die afgelope twee jaar sukkel om te funksioneer, verwys. “Die NWKV is verantwoordelik vir predasie in die kleinveesektor en het sy bes gedoen om die organisasie weer terug op koers te kry.” Guillau het verder daarop uitgebrei dat die forum se naam intussen as ʼn wettige entiteit geregistreer is en nou as Predasiebestuur Suid-Afrika (Predation Management South Africa) bekendstaan. Die entiteit sal op opleiding, kommunikasie en wetgewing fokus.

Ander sake soos finansies en armoedeverligting is ook uitgelig. Daarna het Leon de Beer, NWKV se hoofbestuurder, die afgelope jaar se operasionele verslag voorgelê.

Klimaatsverandering en veeprodusente

Dr Louis du Pisani het oor klimaatsverandering gepraat. Hy het die vraag gestel of die aarde in ʼn natuurlike klimaatskurwe is en of dit ʼn mensgemaakte fenomeen is. Hy het opgemerk dat die planeet, volgens wetenskaplikes, tans in ʼn natuurlike warm periode is en dat Suid-Afrika spesifiek daardeur geraak word en nog warmer temperature kan verwag. “Veeprodusente moet daarop voorbereid wees,” het hy gesê.

NWKV
Vanjaar se kommunale skeerhuis-wenners.

“Ons ervaar meer intense weerstoestande en wisselvallige reënvalpatrone oor korter tydperke, storms van hoër intensiteit en ʼn toename in koolstofdioksiedvlakke,” het hy verduidelik. Een van die aangepaste produksiestelselmetodes wat dr Du Pisani in sy voorlegging aangehaal het, was om te vermy dat jou ooie nie gedurende die warmste tye van die jaar lam nie.

Hy het ook gesê dat die toename in temperature en koolstofdioksiedvlakke nie werklik ʼn probleem vir plante is nie. Hoewel plante wel ‘hittestres’ kan ervaar, het hy verduidelik, is dit gewoonlik nie ʼn probleem solank daar genoeg water beskikbaar is nie. Volgens dr Du Pisani beteken dit dat produsente moet sorg dat hul veld in die bes moontlike toestand is om genoeg water op te vang en te behou wanneer dit wel die slag gereën het.

Implementering van die Cape Wools Volhoubaarheidstandaard

Van links is Herman Hugo, Cape Wools SA-voorsitter, sy gade, Susan, en Japie Celliers, voorsitter van die NWKV in Mpumalanga.

Volgens Deon Saayman, hoofbestuurder van Cape Wools SA, is die Cape Wools Volhoubaarheidstandaard binne ʼn raamwerk van internasionale standaarde onontbeerlik. “Suid-Afrikaanse wol moet internasionaal as ʼn Suid-Afrikaanse produk erken word en daarom is dit belangrik dat ons strategie in lyn moet wees met internasionale standaarde. Verskeie handelsmerke vereis deursigtigheid en vertroue in die mark en waardeketting,” het hy gesê.

Hy het ook gesê dat die implementering van die Cape Wools Volhoubaarheidstandaard in kommunale gebiede daargestel is om bewustheid van die omgewing, sowel as diere se welstand, by kommunale produsente te kweek. “Ons wil graag vir die internasionale gemeenskappe bewys lewer wanneer ʼn produk van ʼn kommunale produsent afkomstig is, sodat hulle daarby kan inkoop. As die Suid-Afrikaanse wolbedryf, moet ons begin dink aan ʼn strategie vir transformasie en ontwikkeling – hoe ons ʼn toegewyde liggaam kan skep om al die bemagtigingsprojekte te dryf.”

Biosekuriteit begin op die plaas

Dr George de Kock, direkteur van Cape Wools SA, het die onderwerp van biosekuriteit in Suid-Afrika ter tafel gelê en opgemerk dat doeltreffende kommunikasie daarmee gepaard gaan. “Dit gaan nie goed met die land se staatsinstansies nie en produsente moet na hulself begin kyk,” het hy gesê. “Biosekuriteit begin op jou plaas, alhoewel Cape Wools SA hul bes sal doen om jou wol te laat uitvoer gedurende uitbrekings soos bek-en-klouseer. Dit bly egter jou verantwoordelikheid as produsent om goeie biosekuriteit op die plaas toe te pas.”

In terme van naspeurbaarheid sê hy dat produsente wat nie vleis uitvoer nie, geen rede het om ʼn radiofrekwensie-oorplaatjie vir hul skape aan te sit nie, omdat dit nie vir só ʼn produsent winsgewend is nie. Hy het wel bygevoeg dat Suid-Afrika as ʼn uitvoerder van wol ʼn naspeurbaarheidstelsel in plek moet hê en dit word deur Cape Wools SA bestuur.

Clarence Friskin van die Suid-Afrikaanse Wol- en Sybokhaarkopersvereniging (Sawamba) en voorsitter van die Woltoetsburo, het op sy beurt klem daarop gelê dat elke produsent moet besluit watter standaarde vir hom/haar sal werk. Hy het bygevoeg dat hy glo ʼn produsent wat nie deel van ʼn standaard wil wees nie se wol steeds sal verkoop, maar sonder die ekstra premie van ʼn produsent wat wel ʼn ouditsertifikaat het.

NWKV
Herman Archer, Dennis Louw en Pierre van Zuydam het ook die kongres bygewoon.

Op haar beurt het dr Ariena Shepherd, ʼn veearts wat in skape en bokke spesialiseer, voorgehou dat Suid-Afrika by ʼn punt sal moet uitkom waar produsente bewys sal moet lewer dat hul plaas aan al die nodige naspeurbaarheid- en biosekuriteitreëls voldoen. “Baie Suid-Afrikaanse produsente is te gemaklik wat veesiektes betref,” het sy gesê. “Ek glo op die ou end sal produsente gesertifiseer moet wees, met naspeurbaarheid as die norm.”

Realiteite vir die wolwaardeketting

Isak Staats, algemene bestuurder van BKB se wol- en bokhaarafdeling, het op die kongres se tweede dag oor die realiteit van die Covid-19-pandemie en die impak daarvan op die hele wolwaardeketting gepraat. Hy het op ʼn positiewe noot bygevoeg dat BKB wel ’n paar nuwe planne in die pyplyn het.

Die chaos wat tans by Suid-Afrikaanse hawens heers, is ook ter tafel gelê. Houers word nou na Kaapstad gestuur om daarvandaan verskeep te word. Isak het voorgestel dat Agri SA betrokke moet raak om probleme, wat swak diens insluit sowel as om houers afgelaai te kry, aan te spreek.

Paul Lynch van Sawamba is al 35 jaar lank in die wolbedryf betrokke. Hy is van mening dat wolkopers soveel as moontlik wol moet koop om in die bedryf te kan bly. “Terwyl die wolmark tans baie goed doen, ervaar die sybokhaarmark verskeie uitdagings en moet ons hoop dit loop nie oor na die wolmark nie,” het hy gesê. “Die bek-en-klouseerprobleem is ʼn bedreiging en ons moet doen wat ons kan om die wolbedryf te beskerm.”

Hy het ook daarna verwys dat produsente nie langer op die staat kan reken nie. Behalwe vir biosekuriteit moet daar ernstig aandag geskenk word aan praktyke op die plaas, omdat daar nie ʼn wolbedryf sal kan bestaan sonder goeie werkers en skeerders na wie daar omgesien word nie.

NWKV
Dr Louis du Pisani ontvang die Silwerram-toekenning wat deur Leon de Beer oorhandig is.

Die volgende toekennings is tydens die kongres oorhandig:

  • Silwerram-toekenning: Dr Louis du Pisani.
  • Goueram-toekenning: Dr George de Kock.
  • Hoogste prys vir die seisoen, Sawamba: Zuurbron Boerdery.
  • Bennie van der Merwe-toekenning: Trompsburg Studiegroep.
  • Beste Ekonomiese Geklasseerde Skeersel: In die eerste plek was AC Kruger (Frankfort), in die tweede plek Sonop (Smithfield) en in die derde plek Weltevreden Merino’s (Pieter du Toit, De Aar).
  • Kommunale Skeerhuis Algehele Wenner: Haytor Woolgrowers’ Association.

Vir navrae, kontak gerus die NWKV by 041 365 5030 of nwga@nwga.co.za. – Carin Venter, AgriOrbit

Prakties en leersaam: NWKV bied wolklassering- en hanteringskursus aan