Obaro Makelaars is onlangs tydens Santam se Connect-sessie, ook bekend as die Santam Broker Awards, vereer vir hul uitsonderlike prestasie in die Noordwes streek.

Obaro Makelaars het tydens die glansgeleentheid ’n goue toekenning ontvang vir uitsonderlike prestasie in Brits, Noordwes. Obaro het ook met die Landboutoekenning vir uitsonderlike prestasie in die Noordwes streek weggestap. Hierdie toekennings is gebaseer op prestasie tydens die 2017 finansiële jaar.

Hierdie byeenkoms word jaarliks deur Santam aangebied. Die kriteria vir die toekennings is gebaseer op groei en winsgewendheid. Die winsgewendheid verwys na die bestuur van die makelaars se totale portefeuljes, wat groei en eise-premie-verhouding op die totale portefeulje insluit.

Obaro is trots om vanjaar met dié toekennings weg te stap. “Dit is altyd ’n voorreg om erkenning vir harde werk te ontvang. Hierdie is bloot nog ’n wyse waarop Obaro in lyn met die boer is, en met vennote soos Santam is ons een stap nader om ons droom te verwesenlik,” sê Nic Bronkhorst, besturende direkteur van Obaro. – Persverklaring