Die hersiene oppervlak- en vyfde produksieskatting vir somergewasse vir die 2019-produksieseisoen, is deur die Nasionale Oesskattingskomitee vrygestel.

Read it in English.

Kommersiële mielies

Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 10,933 miljoen ton gestel – dit is 0,30% of 32 400 ton meer as die vorige skatting van 10,900 miljoen ton. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,301 miljoen hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 4,75 t/ha is.

Die geskatte mielie-oes is 13% kleiner as die 2018-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, naamlik die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, gaan na verwagting 80% van die 2019-oes produseer.

Die oppervlak onder witmielies is 1,298 miljoen hektaar en geelmielies 1,002 miljoen hektaar.

Die produksieskatting van witmielies is onveranderd gelaat op 5,488 miljoen ton teenoor die vorige skatting. Die opbrengs van witmielies is 4,23 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 5,445 miljoen ton, wat 0,60% of 32 400 ton meer is as die 5,412 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 5,43 t/ha.

Sonneblomsaad 

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 611 140 ton. Die
oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 515 350 hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 1,19 t/ha is.

Ander gewasse 

Die produksieskatting van sojabone is 1,216 miljoen ton, wat 6,13% of 79 450 ton
minder is as die vorige skatting van 1,296 miljoen ton. Die geskatte oppervlakte beplant van sojabone is 730 500 hektaar en die verwagte opbrengs is 1,67 t/ha.

Die verwagte grondbone-oes het met 9,36% of 2 125 ton tot 20 580 ton afgeneem, met ’n verwagte opbrengs van 1,03 t/ha. Die oppervlakteskatting vir grondbone is 20 050 hektaar.

Die produksieskatting van sorghum het ook effens afgeneem met 2,65% of 4 400 ton, van 165 850 ton tot 161 450 ton. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 50 500 hektaar, en die verwagte opbrengs is 3,20 t/ha.

In die geval van droëbone is die produksieskatting afwaarts aangepas met 8,17% of 5 920 ton – van 72 450 ton na 66 530 ton. Die oppervlakte beplant met droëbone is 59 300 ha, en die verwagte opbrengs is 1,12 t/ha.

Toename is gerusstellend, sê Sihlobo

Volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, is dit gerusstellend dat daar geen afname in die produksieskatting is nie, ten spyte van die feit dat die skatting 13% laer is as in 2018. Dié laer produksieskatting kan toegeken word aan ‘n afname in plantarea asook swak opbrengste asgevolg van die knellende droogte.

Hy meen ook dat die land genoeg mielies produseer om aan die jaarlikse verbruik van 10,8 miljoen ton te voorsien. Suid-Afrika sal waarskynlik in die 2019/20 bemarkingsjaar ‘n netto uitvoerder van mielies bly. Uitvoere kan egter met sowat 50% afneem tot ongeveer 1,1 miljoen ton.

Effek van suidelike en Oos-Afrika op mielieprys

‘n Kommerwekkende situasie wat Sihlobo meen dopgehou moet word, is die uitwerking wat suidelike en Oos-Afrika se mieliebehoeftes op Suid-Afrika se mielieprys kan hê. Volgens AgBiz se berekeninge is dit moontlik dat Zimbabwe, Kenya en Mosambiek sowat 2,5 miljoen ton mielies gaan benodig. Daar is ongelukig nog geen uitklaring oor waar hierdie mielies vandaan gaan kom nie.

Neem asseblief kennis dat die sesde produksieskatting vir somergewasse vir 2019, op 25 Julie 2019 vrygestel sal word. – CEC-verslag & Agbiz kommentaar

Klik hier om die vorige oesskatting te lees.