Nog ’n jaar is verby en weereens kyk ’n mens terug en besef die Prediker het ’n punt beetgehad toe hy meer as 2 000 jaar gelede verklaar het dat niks wat gebeur, nuut is nie. So gaan dit ook steeds oor die kwessie van skou of nie skou nie. Dit is al vir jare die onderwerp van bespreking, konflik en soms konfrontasie. Sommige rasgenootskappe en telers is ten gunste van skoue en ander is daarteen gekant.

Om skoue te verstaan, moet ’n mens teruggaan in die geskiedenis. In ’n tyd toe daar geen prestasie-aantekening was nie, was die subjektiewe beoordeling van diere die enigste manier waarmee goeie van swak diere geskei is.

Sedert rasse begin vorm het, word diere subjektief op grond van ’n gestelde rasstandaard beoordeel en ’n raskampioen word dan aangewys as die beste voorbeeld van hoe ’n dier van die betrokke ras moet lyk. Dit is min of meer hoe skoue die afgelope 200 jaar daar uitsien. ’n Skoukampioen is gewoonlik ook die duurste dier in die ras en sy/haar nageslag het daarom ook meer waarde.

’n Bemarkingsplatform

In wese word diere dus subjektief met die oog beoordeel om ’n onderskeid te tref, met die moontlikheid dat ’n ander beoordelaar ’n ander uitslag sal gee. Skoue is telers se bemarkingsplatforms en gewoonlik ook die hoogtepunt van die sosiale kalender. Diere is gewoonlik haltermak en word ten aanskoue van ’n gehoor in ’n skouring rondgelei.

Diere word deur hul hanteerders vertoon om die spreekwoordelike beste voetjie voor te sit en sodoende die beoordelaars te beïndruk. Baie slegte praktyke het veral in die suiwelbedryf, en veral in Amerika, ontstaan om diere beter te laat vertoon. Dit wissel van swart politoer en wit kalk wat kreatief aangewend word om ’n beoordelaar se oog te mislei, tot selfs tandestokkies wat skewe spene moet reguit maak!

Soos wat prestasiedata beskikbaar begin raak het, het meer rasse en telers eerder dié data begin gebruik om voortreflike individue in rasse te identifiseer. Die objektiewe meting van ekonomies relevante eienskappe soos reproduksie, groei en kalwingsgemak het ’n groter rol begin speel as subjektiewe skoubeoordeling. Dit is weerspieël deur diere wat danksy hul prestasiedata beter pryse behaal het as die skoukampioene.

Anti-skou profeet

In Suid-Afrika was prof Jan Bonsma veral ’n groot anti-skou profeet. Die Bonsmara, Suid-Afrika se grootste ras, wat na hom genoem is, skou vandag ná 50 jaar steeds nie. Indien ’n mens die aantal diere en skoue tel, is die Brahmane, Simmentalers, Simbras en Limousins die grootste rasse in die vleisbeesgeledere wat skou.

Ongeveer twee derdes van die 36 geregistreerde rasse in Suid-Afrika neem deel aan skoue. Die grootste rasse onder die derde wat nie skou nie, is die Bonsmara, Nguni, Beefmaster en Brangus. Aan die kleinveekant lyk dinge ietwat anders. Ongeveer die helfte van die sowat 20 geregistreerde skaaprasse skou, met die Merino, Dorper en SA Vleismerino die prominentste. Die Dohne Merino en Meatmaster is die grootste skaaprasse in Suid-Afrika wat nie skou nie.

Sekere tendense het wel verander, soos dat nie-haltermak diere ’n al hoe groter deel van die skoudeelnemers begin vorm. Die meeste rasse wat skou, neem ook aan prestasie-aantekening deel en prestasiedata het die norm geword om diere te bemark, selfs al skou hulle ook.

Vind ’n balans

As skoue relevant wil bly, moet ’n balans tussen subjektiewe beoordeling en objektiewe meting gevind word. Om ’n “oog” vir ’n goeie dier te hê, het beslis waarde en dit moet ontwikkel word. Om die skatkis van data wat moderne tegnologie ons gee te ignoreer, is dom.

Die prestasieklas-skoue van SA Stamboek en die Landbounavorsingsraad, asook die Breedplan-bulle, het ’n nuwe dimensie ontsluit wat dalk die toekoms van skoue vir ons wys. Hier word ’n dier se prestasiedata as kwalifiserende norm gebruik.

Slegs diere wat ’n bepaalde standaard met hul prestasiedata bereik het, kwalifiseer om subjektief in die ring beoordeel te word. Die wenner is dus ’n dier met ’n balans tussen sy syfers en sy voorkoms. Ons het die geleentheid om die beste van twee wêrelde te skep, so kom ons gebruik dit in balans met mekaar. – Albert Loubser, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here