Agri SA is ontevrede met president Cyril Ramaphosa se stelling dat daar “geen moord op boere” in Suid-Afrika plaasvind nie. Hy het dit tydens ’n onderhoud by die Verenigde Nasies in New York gesê in reaksie op die Amerikaanse president, Donald Trump, se omstrede twiet in Augustus.

Read it in English.

“Plaasaanvalle en -moorde op alle boere, plaaswerkers en hul gesinne is ’n reuse-probleem wat erken moet word,” sê Dan Kriek, Agri SA se president.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het vroeër vandeesmaand die jongste syfers oor dié aanvalle vrygestel. Die polisie se misdaadstatistiek toon dat 62 plaasmoorde in 2017/2018 plaasgevind het. Agri SA doen ’n beroep op president Ramaphosa as staatshoof van Suid-Afrika om die korrekte feite weer te gee.

“Die mate waarin voedselprodusente en hul werkers aan brutale aanvalle uitgelewer is, kan nie weggepraat word nie. Volgens die jongste verslag van Agri SA het boere ongeveer R7,7 miljard in 2017 weens misdaad op plase verloor,” sê Kriek.

Agri SA is betrokke by verskeie gesprekke met onder andere president Ramaphosa, minister Cele, landbouminister Senzeni Zokwana en internasionale rolspelers. Agri SA sal die uiterste dringendheid van plaasveiligheid in al die moontlike forums, nasionaal en internasionaal, benadruk. – Persverklaring

Klik hier vir Agri SA se jongste misdaadverslag.