Onkruiddoderweerstand is die eerste keer in 1957 in die VSA aangemeld. Die onkruid betrokke was wildewortel (Daucus carota). Vandag, skaars 60 jaar later, reageer 254 onkruidspesies nie meer op 163 verskillende onkruiddoders nie. Onkruiddoderweerstand is al op 92 gewasse in 70 lande aangeteken. Groot rede tot kommer is die feit dat die meeste weerstandige onkruidspesies in koring voorkom – ’n duidelike bedreiging vir voedselproduksie. In Suid-Afrika kom weerstand in roggras (Lolium spp.) redelik algemeen voor.

Read it in English. 

Volgens Francois Viljoen, Syngenta se tegniese velddeskundige op onkruiddoders, kan weerstand gedefinieer word as die oorgeërfde vermoë van ’n onkruid om die toediening van ’n onkruiddoder teen ’n koers wat normaalweg genoeg is vir doeltreffende beheer, te oorleef. “Oorgeërf beteken dat ’n paar plante in ’n bevolking die natuurlike vermoë het om ’n spesifieke tipe onkruiddoder te oorleef en aan te hou voortplant.”

Die voorkoms van weerstandige onkruidspesies wêreldwyd.

Weerstand ontwikkel met die voortdurende gebruik van dieselfde chemiese middel met dieselfde werking. Soos wat die weerstandige plante voortplant, word hulle al hoe meer. Sodra daar meer weerstandige plante as vatbare plante is, het die produsent ’n weerstandige bevolking.

Hoe en hoe vinnig weerstand ontwikkel hang af van faktore soos die onkruidlading in ’n land, natuurlike voorkoms van weerstandige plante en hoe sterk hulle is, hoe gereeld en in watter hoeveelhede onkruiddoders met dieselfde werking toegedien word, en wisselbou.

Die meganismes van weerstand

Die twee belangrikste meganismes waardeur weerstand ontwikkel, is teikenweerstand en versnelde metabolisme.

Teikenweerstand.

Die teiken is daardie biochemiese area in die plant waarmee die onkruiddoder in direkte interaksie tree. ALS-inhibeerders, byvoorbeeld, beheer grasonkruide deur ’n spesifieke ensiem in die onkruid te ontwrig. Wanneer die vorm van hierdie teikenarea selfs net effens verander, kan die onkruiddoder nie meer daarmee bind om sy fototoksiese impak uit te oefen nie.

Versnelde metabolisme verwys na die hoër tempo waarteen die onkruid die onkruiddoder afbreek in nie-toksiese produkte. Metaboliese weerstand beïnvloed die meeste onkruiddoders tot ’n mate; slegs in uiterste gevalle veroorsaak dit ’n totale verlies aan beheer.

Landbou se reaksie

Die eerste voorval van weerstand is wel al in 1957 aangemeld, maar die eerste ernstige geval het eers in 1968 voorgekom.

Teen 1989 het weerstand teen ACC-ase en ALS-inhiberende insekdoders tot die ontstaan van verskeie werkgroepe gelei en uiteindelik tot die stigting van die internasionale Onkruiddoderweerstandaksiekomitee (OWAK). Gestig deur die landbouchemiese sektor, is OWAK daarop gemik om gewasopbrengs en -kwaliteit te beskerm deur die wêreldwye stryd teen onkruiddoderweerstandige onkruide te ondersteun.

So donker as wat die prentjie kan lyk, is onkruiddoderweerstand nie ’n onoorkomelike probleem nie. Om die waarheid te sê, lê die antwoord grotendeels in produsente se hande, sê Viljoen. “Die basiese beginsel is dat produsente bestaande produkte versigtig moet gebruik en altyd weerstandigheid in gedagte moet hou. ’n Baie klein hoeveelheid nuwe aktiewe bestanddele betree tans die mark, daarom moet ons uiters verantwoordelik omgaan met die produkte wat ons reeds tot ons beskikking het. Syngenta beskou die opleiding van produsente in die voorkoming van weerstandigheid as een van ons belangrikste take.”

Volgens OWAK kom voorkoming neer op ’n geïntegreerde benadering tot onkruidbestuur. Dit behels die gebruik van veelvoudige onkruiddoders met verskillende werkings en oorvleuelende onkruidspektrums in rotasie, in volgorde of in mengsels. Gebruik verder altyd die volle aanbevole dosis saam met die behoorlike toedieningspraktyke en tydsberekening. Laastens moet produsente ook hul lande inspekteer ná ’n toediening om alle onkruide wat oorleef het – en potensieel weerstandig is – uit te trek sodat hulle nie kan voortplant nie. – Persverklaring