Brent Jammer, Mario van den Heever, Cheri-Lynn Steyn en August Moatlhodi, studente van die Departement Landbou-Ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, staan by prof Johan Willemse (middel).

Prof Johan Willemse het op Vrydag 1 Februarie die eerste van sy gereelde markvooruitsigte-werkswinkels by die Biker’s Church naby Bloemfontein aangebied.

Volgens Willemse trek die wêreld-ekonomie baie swaar. Verder is die Suid-Afrikaanse ekonomie, as gevolg van die blywende impak van die Zuma-bewind, glad nie op koers met die res van die wêreld se ekonomië nie. Die jaar wat voorlê gaan nie een van die bestes wees vir Suid-Afrikaanse boere nie. Die handelsoorlog tussen Amerika en China, die onvoorspelbare wisselkoers, die verkiesing en droogte is faktore wat als bydra tot ’n moeilike ekonomiese klimaat.

Daar word voorspel dat die rand tussen R13 en R15 teenoor die Amerikaanse dollar kan wissel, maar dit kan ook meer wisselvallig wees tot en met die nasionale verkiesing. Verslae wat onlangs deur Shoprite vrygestel is, dui aan dat verbruikers ongeveer 36% minder spandeer het tydens 2018 se feesseisoen vergeleke met die vorige jare. “Dit is ’n aanduiding dat beide die landbousektor en die res van Suid-Afrika ’n baie moeilike jaar kan hê.”

Boere moet kennis neem dat die jaar se oes moontlik minder sal wees as wat die voorlopige oesskatting aandui, weens die lae reënval die afgelope seisoen en die vroeë ryp wat voorspel word. Die totale hoeveelheid hektare wat tans geplant is, is heelwat minder as in die 2017/18 plantseisoen en gaan veroorsaak dat graanpryse styg.

“Daar word verwag dat witmielies teen ongeveer R3 500/ton gaan verhandel, maar die moontlikheid dat dit teen R4 200/ton kan verhandel bestaan steeds. Geelmielies gaan teen ongeveer R2 800/ton verhandel,” sê Willemse. Veeboere gaan die jaar meer geld moet opdok vir voer weens die hoër mieliepryse. Hy waarsku ook dat indien die oeste kleiner is as die oesskatting, silo’s baie min voorraad gaan hê wanneer die nuwe seisoen aanbreek. “Daar kan ook verwag word dat sojabone, sonneblom en grondboontjies se voorrade minder sal wees, wat dus kan lei tot ietwat hoër pryse as in die verlede.”

Willemse sê dat die hoë prysgolf wat die veebedryf die afgelope twee jaar ervaar het, nou verby is en dat 2019 ’n swaar tyd vir veeboere kan inhou. “Die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer veroorsaak ’n verhoging in die aanbod van vleis in Suid-Afrika. Dit, tesame met hoë voerpryse en skaars weiding (as gevolg van die droogte), kan veroorsaak dat verbruikers minder sal betaal vir hul vleis in supermarkte.” Die speenkalfprys sal waarskynlik nie binnekort weer bo R30/kg verhandel nie, en boere moet vrede daarmee maak dat die prys vir ’n rukkie tussen R24/kg en R27/kg gaan beweeg.

Prof Willemse het die werkswinkel op ’n positiewe noot afgesluit, en het aangedui dat die varkbedryf goed herstel het na laasjaar se listeriose uitbraak. Hy meen egter dat landbou al deur baie moeiliker jare gegaan het as wat 2019 vir ons gaan inhou, maar dat boere moet aanhou om innoverend te wees en moed te hou. – Mario van den Heever, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here