Die nuut voorgestelde Onteieningswetsontwerp teiken alle bates van alle landsburgers. Dit was die boodskap wat Vrystaat Landbou (VL) op 14 Desember tydens ’n mediakonferensie oor die voorgestelde Onteieningswet oorgedra het.

VL het tydens die mediakonferensie ’n verslag bekendgestel waarin die organisasie die gevare van die voorgestelde Onteieningswysigingswet uitgewys het. “In Suid-Afrika het ons ongelukkig nie die sekerheid dat die regering daartoe verbind is om fundamentele ekonomiese boublokke te verskans nie. Die heel nuutste voorbeeld hiervan is die voorgestelde Onteieningswet,” het Francois Wilken, president van VL, gesê.

“In die algemene diskoers word daar verkeerdelik aangeneem dat slegs landbougrond die teiken van onteiening sonder vergoeding is. Hierdie wet is egter nie net ’n aanval op produsente en grondeienaars nie, maar op elke individu se eiendomsreg,” het Wilken gesê.

Probleme met die Onteieningswetsontwerp

Tydens die mediakonferensie het dr Jack Armour, VL se bedryfsbestuurder en Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grondsake, die grootste probleme met die Onteieningswet uitgelig. Dit sluit in:

  • Die uitgesproke doelwit van die Onteieningswet, naamlik herverdeling.
  • Die rede vir onteiening, naamlik openbare belang, wat nie in besonderhede gedefinieër word nie.
  • Die feit dat die wet onteiening sonder vergoeding moontlik maak.
  • Die feit dat die wet breë, algemene kategorieë daarstel, waarbinne onteiening sonder vergoeding kan plaasvind.
  • Dat alle bates deur hierdie wetgewing geteiken kan word.

Volgens Crosby is die Onteieningswet die meganisme wat deur elke gesagsinstansie met onteieningsmagte gebruik word. “Die magte van onteiening word in ander stukke wetgewing (meer as 200 stukke) voorsien. Ons mag selfs meer wetgewing in die toekoms sien wat wetlike magte aan verskillende ministers en selfs plaaslike instansies gee.”

Sy het gesê die nuwe Onteieningswet is oor tyd verbeter, maar daar is uitstaande sake wat ernstige gevolge vir grondeienaars kan inhou, soos die definisie van die Onteieningswet, die kwessie van huurarbeiders en die koste vir grondeienaars indien hulle hof toe sou gaan.

Die Onteieningswetsontwerp moet gekeer word

“Hierdie wet moet gekeer word en daarom is openbare teenkanting in hierdie proses vir VL uiters belangrik,” het Wilken gesê. “Landsburgers moet besef dat as een persoon se eiendomsreg deur die staat geteiken kan word, almal se eiendomsreg in gedrang is.

“Daarom beoog VL om so wyd as moontlik ondersteuning teen hierdie wysigingswet te mobiliseer. Onteiening sonder vergoeding is ‘n maak-of-breek-saak – nie net vir produsente nie, maar ook vir die land en al sy mense.”

Enige persoon wat die Onteieningswysigingswet wil teenstaan, kan hul insette op VL se webwerf aanteken. Hierdie insette sal aan die parlement oorhandig word. – Persverklaring, Vrystaat Landbou

Klik op die skakel hieronder om die inligtingstuk af te laai: