Ontmoet die span agter die 3de beste kaas in die wêreld

0
492
Van links na regs is Kobus Mulder, Rebecca Visser, Petrina Visser, Rob Visser, Johan Ehlers (hoof uitvoerende beampte, Agri-Expo) en Breyton Milford (operasionele bestuurder, Agri-Expo) met die Agri-Expo wisseltrofee vir die Beste Suid-Afrikaanse Kaas by die 2017 World Cheese Awards.

Wat het jy nodig om ’n wenkaas te maak? Goeie melk én ’n goeie span! Gelukkig beskik Dalewood Fromage van Simondium oor albei.

Dalewood se Huguenot is by die pas afgelope 2017 World Cheese Awards in Londen as die gesamentlike 3de beste kaas in die wêreld aangewys (saam met ’n Oostenrykse Capellaro van Almenland Stollenkaese).

Die Huguenot is ook bekroon met die Agri-Expo-wisseltrofee vir die Beste Suid-Afrikaanse Kaas by die WCA, die wêreld se grootste kaaskompetisie met 230 beoordelaars van 29 lande wat 3 000 kase van 35 lande beoordeel. Agri-Expo het in Desember ’n prysoorhandingsgeleentheid gehou om Dalewood se hele span van 60 mense, van die Jersey-melkery en die kaasmakery tot die bestuur, geluk te wens. Agri-Expo het ’n sertifikaat aan Dalewood oorhandig, terwyl die internasionale kaasbeoordelaar Kobus Mulder oor die beoordelingsproses gesels het en ’n paar spanlede met spesiale geskenke verras het.

Die Huguenot is ook as die 2017 Wêreldkampioen Jersey-kaas aangewys. Volgens Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, is dit ’n besondere prestasie om by die WCA as een van die top-kase in die wêreld bekroon te word: “Ons wens graag vir Rob en Petrina Visser en hulle hele span geluk – hierdie internasionale erkenning vir Dalewood se spesialiskaas is welverdiend.” – Persverklaring

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here