Die 2021-been van die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie het amptelik op 1 Januarie geopen vir inskrywings, en volg op ’n uiters geslaagde 2020-kompetisie.

Read it in English

Meer as 80 inskrywings is in laasjaar se kompetisie ontvang, ten spyte van die struikelblokke wat die Covid-19-pandemie in die organiseerders se pad geplaas het. Vanjaar se kompetisie is die agtste van sy soort.

Die kompetisie het ten doel om aan elke deelnemer ’n verslag te lewer wat die algehele gehalte en elemente van die kuilvoer wat hulle ingeskryf het, uiteensit. Die kategorieë waarin deelnemers kan inskryf is mielies, sorghum en hawer. Dit kan as bunkers of sakke ingeskryf word. In 2020 is ’n toetskategorie vir kuilvoerbale bygebring en dié kategorie sal weer vanjaar ingesluit word.

’n Groot deel van die sukses van die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie kan aan die deelname van die verskeie borge toegeskryf word. Borgskappe vir 2021 is reeds vasgemaak en Plaas Media kondig met trots dié jaar se borge aan.

Hoofborg

Santam Landbou is sedert die ontstaan van die kompetisie as hoofborg betrokke. Die maatskappy is regoor die land bekend vir betroubare versekeringsdienste en -produkte vir die landboubedryf.

Laboratorium-analises

Labworld, ’n afdeling van Philafrica Foods, is sedert 2019 gekontrakteer om die monsteranalises vir die kompetisie te hanteer. Hierdie jaar borg hulle ‘n gedeelte van die koste van hierdie analises. Labworld spesialiseer in veevoeranalises met die doel om gedetailleerde verslae rakende die gehalte en inhoud van hul voer aan hul kliënte te lewer.

Toerustingborg

Claas/Kempston Agri is vanjaar die eerste keer ’n borg van die kompetisie en ons is baie opgewonde om hulle as deel van die span te hê. Hulle borg vanjaar die toerusting wat tydens die monsternemingsproses gebruik sal word. Albei maatskappye verskaf landboumasjienerie in Suid-Afrika en wêreldwyd.

Prysborg

Pannar Saad is ’n gerekende saadverskaffer in die landbou. Hulle is veral bekend vir hul mielie-, sorghum- en hawerkultivars wat in kuilvoer gebruik word. Vanjaar is die vierde keer dat Pannar Saad as prysborg optree.

Prysborge

Kemin Industries het in 2020 met die organiseerders van die kompetisie hande gevat en hulle word vir ’n tweede keer verwelkom. Kemin se hooffokus is om goeie gehalte veevoerprodukte te produseer met die oog op dieregesondheid en -veiligheid.

Strapping and Profile is sedert 2018 deel van die kompetisie. Hierdie besigheid voorsien verpakkingsmateriaal, en in samewerking met Rani Plast in Finland, versprei hulle kuilvoersakke en -blaaie, asook ander kuilvoermateriaal in Suid-Afrika.

Nutribase is ’n invoerder, verskaffer en verspreider van voerbymiddels vir die veevoerbedryf. Hulle verskaf en versprei ook kuilvoerinokulante in Suid-Afrika. Hierdie is die derde jaar dat Nutribase as prysborg van die kompetisie optree.

Hurwitz Farming neem dié jaar vir die tweede keer as ’n prysborg deel. Hierdie boerdery-onderneming in Mpumalanga se dienste sluit ’n professionele kuilvoerproduksiekomponent, Greenstar Contracting, in.

Kuilvoerkompetisie

Nuwe gestruktureerde borgskapuiteensetting

Plaas Media sal teen einde Oktober vanjaar ‘n gestruktureerde borgskapuiteensetting bekendmaak, wat meer maatskappye sal toelaat om deel van hierdie uiters suksesvolle kompetisie te word. Bestaande borge sal uiteraard eerste geleentheid geniet om borgskappe te aanvaar of van die hand te wys, waarna formele aansoeke van ander maatskappye ingewag sal word. Die voorwaarde wat sal geld, is dat alle borge aktief aan die kompetisie moet deelneem deur kliënte/produsente se kuilvoer in te skryf. Meer besonderhede sal volg wanneer die proses bekendgemaak word.

Om meer uit te vind oor ons borge, hul betrokkenheid by die kompetisie, en wat hulle in 2020 geborg het, loer gerus na die 2020 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie-video op Plaas TV.

Vir meer inligting oor die kompetisie, kontak Deidré Louw by deidre@plaasmedia.co.za of 066 231 2430. – Deidré Louw, Veeplaas