Ontmoet VL se Jongboer van die Jaar

35
Jongboer van die Jaar
Doug Osler in sy appelboord tydens beoordeling vir VL se Jongboer van die Jaar.

Harde werk, deeglikheid en ’n standvastige geloof is die pilare waarop Vrystaat Landbou (VL) se nuwe Jongboer van die Jaar sy boerdery skoei.

Doug Osler in die appelpakhuis tydens beoordeling.

Doug Osler (39) van die plaas Fourieshoek in die Fouriesburg-omgewing, is op 13 April 2021 as VL se 25ste Jongboer van die Jaar aangewys. Osler, wat die afgelope 16 jaar deel is van ’n familieboerdery waarvan hy 25% in aandele besit, glo dat uitdagings en terugslae as leerkurwe dien en dat dit bydra tot die ervaring wat hy as ’n ‘unieke beroepskeuse’ beskryf.

Osler vertel dat hy hoofsaaklik verantwoordelik is vir die appelproduksie en -pakhuis van Lone Tree Farms. Benewens sy betrokkenheid by georganiseerde landbou as lid van die Fouriesburg-landbouvereniging, is Osler ook voorsitter van die Highveld-vrugteproduseerders en dien as direkteur op die produsenteraad van Hortgro Pome.

Dié pa van twee glo daarin om ’n werksomgewing te skep waarin almal bereid is om te help, te leer en te groei. Wedersydse respek vir mekaar is volgens hom die kernfaktor. Dit is ook vir Osler belangrik om sy werknemers met probleme by te staan, hetsy werksverwant of persoonlik.

Osler stap onder meer weg met ’n kontantprys vanaf VL en geskenkbewyse van Kynoch en Brand New SA. Hy dring ook outomaties deur na die Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Volgens prof Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en departementshoof van landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), word finaliste beoordeel volgens onder meer toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid.

Doug Osler in die appelpakhuis tydens beoordeling.

Prof Fourie is van mening dat die huidige generasie jongboere oor leierskap en innovering beskik en sê dat hy hoopvol is oor die toekoms van landbou in die hande van sulke knap jongmense. – Press release, VL