Vrystaat Landbou (VL), wat meer as 3 500 kommersiële landbouers in die Vrystaat verteenwoordig, is baie bekommerd oor die toename in oorgrensmisdade wat in boerderygemeenskappe plaasvind. Plase wat in die Suid-Afrika-Lesotho-grensgebied geleë is, word veral geteiken.

Read it in English

Op 21 Junie 2020 is John Parr van die plaas Yaxham in die Tweespruit-omgewing, saam met sy vrou, skoonseun en twee kinders deur vyf gewapende rowers aangeval en aangerand. Francois Wilken, president van VL, sê dat VL die insident ten sterkste veroordeel. Die emosionele skade op kinders wat slagoffers tydens plaasaanvalle is moet groter aandag geniet.

Impak van inperking

Volgens Wilken is die oorgrens-situasie nog slegter daaraan toe as voor die staat van inperking. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word tans in terme van die COVID-19-pandemie daarvan weerhou om Lesotho binne te gaan op soek na misdadigers wat oorgrens- en ernstige geweldsmisdade gepleeg het. Magtiging kan klaarblyklik nie deur Interpol verkry word nie, aangesien dit op die hoogste vlak deur die Lesotho-regering geweier word.

Kriminele wat oorgrens opereer buit nou hierdie situasie uit en teiken toenemend boerderygemeenskappe. Dit hou ’n groot bedreiging vir gemeenskapsveiligheid in. Hierdie situasie kan nie deur VL en boerderygemeenskappe aanvaar word nie.

Gedurende die staat van inperking, het meer as 30 oorgrensmisdade plaasgevind waartydens meer as 300 stuks vee gesteel is. Nagenoeg 100 van die gesteelde vee is later by die Caledonrivier teruggevind. Ander ernstige misdade wat oorgrens gepleeg word, sluit huisbrake, diefstal van sonpanele, voertuie, trekkers, bale voer en selfs aanrandings van werkers, in.

In die Hobhouse-omgewing was daar tydens die inperking twee plaasaanvalle waarin werkers aangeval, aangerand en van hul vee beroof is. Klagtes ten opsigte van misdade is van boerderygemeenskappe aangrensend aan Lesotho ontvang. Dorpe sluit onder andere in Clarens, Clocolan, Ficksburg, Hobhouse, Wepener en Zastron.

Polisie se vermoëns tans beperk

Die situasie is reeds na Agri SA verwys om dit op die hoogste vlak met die regering op te neem vir spoedige uitklaring.

Die SAPD se vermoëns is tans beperk in landelike gebiede en VL doen weereens ‘n ernstige beroep op die polisie om groter kapasiteit beskikbaar te stel, veral in die oorgrensgebiede, sê Tommie Esterhuyse, visepresident van VL. Groter samewerking tussen die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ter voorkoming van misdade met verskerpte patrollies, is ook versoek.

Die toename in oorgrensmisdade laat produsente geen ander keuse as om die reg in eie hande te neem, ten einde hulself, hul families en werkers te beskerm en voedselsekerheid te verseker.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, het groot lof vir produsente in die Tweespruit- en Hobhouse-omgewings uitgespreek vir hul vinnige reaksie en optrede om die slagoffers by te staan. Die vinnige reaksie van huisbewoners wat in noodweer teen kriminele aksies van die aanvallers opgetree het, word ook geloof.

Sodanige optrede bevestig weereens dat ‘n georganiseerde landboustruktuur binne die Landelike Beveiligingstrategie, in samewerking met die polisie, onontbeerlik is ten einde aanvallers te stuit, en onderskraag die feit dat waar dié strategie geïmplementeer is, misdade saam met die SAPD bekamp word.

VL bedank mede-boere vir hul vinnige reaksie en paraatheid, en onderneem om slagoffers en die boerderygemeenskap by te staan om te verseker dat reg en geregtigheid te alle tye gehandhaaf word. – Persverklaring, VL