Michelle Mokone, ’n landbou-ekonoom, het in ’n onlangse nuusbrief van Graan SA ’n oorsig gegee oor die huidige landboutoestande in Suid-Afrika.

Read it in English.

Suid-Afrika vandag

Die begin van 2018 het ’n paar geringe aanpassings vereis as gevolg van veranderinge wat mettertyd polities, ekonomies en in die landbou-omgewing plaasgevind het.

Politieke veranderinge

Suid-Afrikaners het die nuwe jaar betree met die hoop dat die onbevredigende diens van president Jacob Zuma as staatshoof beëindig sal word nadat Cyril Ramaphosa in Desember 2017 as die nuwe president van die ANC verkies is.

Daar was oor die algemeen positiewe sentiment na aanleiding van sy oorwinning en dit is gesien in die versterking van die rand, wat met 2,75% toegeneem het van R13,10 tot R12,75 teenoor die Amerikaanse dollar.

Cyril Ramaphosa se oorwinning het egter nie onsekerhede wat lankal reeds bestaan, heeltemal uitgewis nie. Uit ’n landbou-oogpunt het Ramaphosa se kommentaar oor die ANC se besluit oor grondonteiening sonder vergoeding besorgdheid in die bedryf veroorsaak.

Grondhervorming is ’n komplekse kwessie, wat moontlik die stadige hantering daarvan verduidelik. Dit is egter van die uiterste belang dat die ANC ’n beleid sal implementeer wat ekonomiese groei bestuur, voedselsekerheid skep en groei in voedselproduksie bevorder.

Die landbousektor is ’n dryfkrag in die Suid-Afrikaanse ekonomie en was ’n belangrike bydraer tot die bruto binnelandse produk (BBP) in drie kwartale van 2017, wat 0,9% in die derde kwartaal van 2017 bygedra het. Dit is dus belangrik dat die nuwe ANC-leierskap se besluite die voortgesette kommer van die bedryf in ag sal neem deur beleide te struktureer wat beleggings sal lok en die landboubedryf sal laat groei.

Veranderinge in die landbou

Hoewel die landboubedryf goeie reën gedurende die 2017/18-produksieseisoen verwag het, is dit egter deur nog droogtes getref wat in 2018 voortgeduur het. Op 15 Januarie 2018 is in ’n vraelys wat deur Graan SA uitgestuur is, aangedui dat min addisionele hektare graan weens hoë temperature en droogtetoestande geplant is. Gevolglik kon boere in die groot mielieproduksiegebiede nie soveel hektaar plant as wat hulle beplan het nie.

Volgens RMD se daaglikse reënvalverslag is dit duidelik dat die 2017/18-produksieseisoen lae reënval ontvang het in vergelyking met dieselfde tydperk ’n jaar gelede. Die Wes-Vrystaat het tot dusver aansienlike lae reënvalvlakke getoon – die streek het vanaf 1 September 2017 tot op datum slegs 1 318mm reën ontvang, wat ’n afname van 48% teenoor ’n jaar gelede is.

Die Noordwes-provinsie het ook ’n afname van 17% in reënval getoon – van 2 428mm in die 2016/17-produksieseisoen tot 1 998mm in die 2017/18-produksieseisoen. Dit is egter te vroeg om die uitwerking van die droogte op aangeplante somergewasse te bepaal, wat weereens tot onsekerheid lei vir die nuwe seisoen wat voorlê.

Ekonomiese veranderinge

Op die ekonomiese landskap het die plaaslike valuta versterk in reaksie op die politieke veranderinge wat in Desember 2017 plaasgevind het. Die versterking van die rand was ’n welkome stimulus, wat voorkom het dat die plaaslike brandstofpryse verhoog.

Suid-Afrika het die afgelope tyd, veral in Januarie, vir die eerste keer in vier maande ’n afname in brandstofpryse gehad, met nog ’n afname wat in Februarie 2018 verwag word. Die brandstofpryse kan nog verder afneem as die rand aanhou om in ondersteuningsvlakke handel te dryf.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het Donderdag sy eerste Monetêre Beleidskomitee-vergadering vir die jaar gehou, waartydens die repo- en rentekoers onveranderd op 6,75% en 10,25% onderskeidelik gehou is. Die SARB het sy voorspelling vir die BBP-groei vir 2017 van 0,7% tot 0,9% hersien, met sy voorspelling vir die jaar wat voorlê wat tot 1,4% aangepas is. As gevolg van gunstige voorspellings, veral die sterker rand en laer elektrisiteit-prysaanname, word verwag dat inflasie vir die jaar ’n lae middelpunt van die teikenreeks van 3% tot 6% kan bereik.

Daar was die afgelope twee maande (Desember en Januarie) duidelik verskuiwings in die politieke, ekonomiese en landbou-omgewing, wat ’n mate van aanpassing sal vereis. Dit is egter nog te vroeg om te voorspel hoe die jaar sal afloop, aangesien almal aan die genade van onsekerheid oorgelaat is. – Graan SA

Kliek hier vir die volledige nuusbrief met meer inligting en tabelle.