’n Paneelbespreking is gehou kort voor die konferensie verdaag het. Van links na regs is Jacques Malan van Lumarie Game Breeders, WRSA-direkteur, Dries van Coller, Phasa-president, Adri Kitshoff-Botha, uitvoerende hoof van WRSA, en Stephen Palos, uitvoerende hoof van Chasa.

Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) het hul jaarlikse Oos-Kaapse konferensie, galadinee en toekenningsfunksie op Saterdag, 2 November 2019, by Pine Lodge Resort in Port Elizabeth gehou. Vanjaar se program het veral gefokus op onderwerpe rakende die huidige stand van sake in die land wat wildboere beïnvloed en die voortslepende droogte in die Oos-Kaap.

Neil Dodds van Nukamma Wildlife het as seremoniemeester opgetree.

Hersiening van Cites

Adri Kitshoff-Botha, uitvoerende bestuurder van WRSA, was die eerste spreker. Sy het terugvoer gegee oor die Internasionale Konvensie oor Handel in Bedreigde Spesies (Cites) se CoP18-konferensie, wat van 17 tot 28 Augustus 2019 in Genève, Switserland, gehou is. Suid-Afrika is deur verskeie regerings- en wildbewaringsorganisasies by dié konferensie verteenwoordig.

Adri sê sy is baie trots daarop dat Suid-Afrika een van vier lande was wat aan Cites voorgestel het dat die konvensie hersien moet word. “Cites se oorspronklike bedoeling was om internasionale handel in bedreigde spesies aan te spreek. Dit moet gedoen word deur wetenskaplik-gebaseerde besluite en die bevordering van volhoubare benutting tot voordeel van spesies en mense.

“Hoewel dit steeds Cites se mikpunt is, gebeur dit nie meer noodwendig nie. Besluite word deesdae beïnvloed deur emosies en beskermingsgesinde groepe wat die wildbedryf van uitwissing wil red.”

Droogtehulp en wetgewing

Brent McNamara, wat Agri Oos-Kaap verteenwoordig het, het gefokus op die vraag of wildboerdery as bona fide landbou kwalifiseer. Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die feit dat droogtehulp aan sekere boere in die Oos-Kaap gegee word, maar dat dit wildboere uitsluit. Dié boere moet ook hul diere voer, het hy gesê.

Jacques Malan van Lumarie Game Breeders is ’n WRSA-direkteur en het lig gewerp op die huidige scenario rondom wetgewing vir wildboerdery en wat wildboere in die afsienbare toekoms te wagte kan word. “Ek glo dat die bestaande wetgewing verouderd is en op bewaringsbeginsels gebaseer word. Dié beginsels is slegs op formeel beskermde gebiede van toepassing. Dit is ’n omslagtige en teenproduktiewe proses vir wildboere om deur die Departement van Omgewingsake vir permitte aansoek te doen,” meen hy.

“Ons moet begin om regeneratief te dink,” het Johan Bouwer van L’Ormarins Farms in sy voorlegging getiteld Die paradigmaskuif gesê. Johan en sy span is aan die voorpunt van regeneratiewe grondgebruik in die brose Karoo-omgewing. Hulle leuse is ‘Gesonde grond ondersteun ’n gesonde ekosisteem – om gesonde diere te ondersteun – om ons families finansieel te ondersteun’.

Bevordering van wildtoerisme

Angus Sholto-Douglas, nog ’n WRSA-direkteur, het ’n gevallestudie voorgelê om die enorme potensiaal van wildtoerisme in die Oos-Kaap te demonstreer. Nonkqubela Mayatula van WRSA in die Oos-Kaap het by hom aangesluit deur te sê dat wildboere weer hul trots in hulself moet herstel en hoë-gehalte diere op ander maniere as die gebaande weg moet verkoop.

Sy het voorgestel dat meer aandag gegee moet word aan opvoedkundige inligting in bewaring, met die doel om meer besoekers te lok. “Suid-Afrika moet ook verder vooruit beplan om toerisme te bemark. Wildbedryfsorganisasies soos WRSA moet met die regering saamspan om die potensiaal van wildtoerisme optimaal te benut.”

Ivo Vegter, ’n bekroonde joernalis en rubriekskrywer, was die hoofspreker. Hy het inligting gedeel oor omgewingsaktivismepraktyke wat die potensiaal het om boerdery te ondermyn. “Natuurbewaarders spot dikwels met wildboere en beweer dat ekotoerisme ’n geringe speler in die skep van inkomste is. Hulle meen jag lewer ’n groter inkomste, byvoorbeeld om die oorlewing van leeus in Suid-Afrika verseker.”

Internasionale struikelblokke

Warne Rippon van Buffalo Kloof Private Game Reserve het die gesogte wildboer van die jaar-toekenning ingepalm.

Stephen Palos, uitvoerende hoof van die Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika (Chasa), het lig gewerp op internasionale bedreigings en beleidsveranderinge wat deur konserwatiewe diereregte-aktiviste op die jagbedryf afgedwing word.

“Ons kry teenstand van magtige mense wat byvoorbeeld ’n verbintenis met die bekende Rothschild-familie het. Ek verwys hiermee na Amerikaanse jagters wat verbied word om trofeë van leeus in aanhouding in te voer. Ons moet alliansies vorm met eendersdenkende organisasies met soortgelyke waardes as ons s’n,” sê hy.

Jagtogte en safari’s met afslag wat as donasies gegee word, het ook in die spervuur gekom.Dries van Coller, president van die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa), het die aandag gevestig op die negatiewe uitwerking wat dit op die waardeketting kan hê as dit nie behoorlik bestuur word nie.

“Ons moet vra of die kool die sous werd is in die vryemarkstelsel as boere wat desperaat is om kop bo water te hou, safari’s teen afslag verkoop. Ons moet donasies met die regte verwagtinge benader. ’n Mens het die reg om te kies. Waarom dus ’n jagtog skenk as jy eerder kontant kan skenk?” het hy gevra.

Presteerders word beloon

Die hoogtepunt van die galadinee was ongetwyfeld die wildboer van die jaar-toekennings. Dié gesogte toekennings vereer baanbrekerswerk en uitstaande pogings, innovasies en verbintenisse tot die bevordering van die wildbedryf. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Margaretha Smit, sekretaresse van WRSA Oos-Kaap se uitvoerende komitee, by 076 908 6458 of stuur ’n epos aan info@wrsa-ec.co.za.