Sake van belang vir wol- en vleisprodusente het op die Oos-Kaapse Nasionale Wolkwekersvereniging (OKNWKV) en Rooivleisprodusente (OKRPO) se jaarkongres op 15 Maart onder die loep gekom. Die  geleentheid is op die Aloe Grove Guest Farm naby Queenstown aangebied. Die klem was op verbruikers se rol in die wol- en vleisbedryf.

Paul Lynch, mede-eienaar van Standard Wool, het as gasspreker oor die toekoms van wol en belangrike tendense in die mark gepraat. Die ander gasspreker was die spitsvondige Marina Bester van Skaapvleis SA wat die mond laat water het met skaapvleisresepte en bemarkingstrategieë wat verbruikers aanmoedig om skaapvleis te eet.

OKNWKV oor wolproduksie-omstandighede

Die Oos-Kaap produseer sowat 34% van Suid-Afrika se wol. Die voorsitter van die Oos-Kaapse NWKV, HB van der Walt, is positief oor wolprodusente se toekoms, ondanks moeilike vraagstukke soos grondhervorming, droogtes en stygende insetkoste.

“Die afgelope jaar is deur ’n strawwe droogte gekenmerk, veral die westelike dele van die provinsie wat nog nie reën gehad het nie. Die dagbestuur het R60 000 aan Agri Oos-Kaap oorbetaal wat dit vir die vervoer van dié produsente se veevoer bewillig het.”

Daar word voorspel dat, hoewel die provinsie se wolproduksie die afgelope jaar met 1 815 827kg gestyg het, die droogte ’n negatiewe effek op die 2017/2018-seisoen gaan hê. Dit volg ook ná veevrektes as gevolg van twee gevalle van erge koue in Oktober en November verlede jaar. “Volgens skatting het sowat 30 000 stuks kleinvee in die provinsie gevrek.”

Vleispryse het egter in die Kerstyd tot rekordhoogtes gestyg en lammers het tot R80/kg verhandel, terwyl groot skape tot soveel as R57/kg verkoop het.

Produksiemikpunte

Barkly-Oos is steeds die grootste wolverskaffer in die Oos-Kaap met 1,07 miljoen kilogram wol, en kommunale produsente het 4,8 miljoen kilogram wol geproduseer.

“Sowat 1 195 kommunale skeerkrale was in die 2016/2017-seisoen aktief, waarvan 944 in die voormalige Transkei/Ciskei-omgewing geleë is. Daar is ses kommunale produksie-adviseurs vir 300 skeerkrale in daardie omgewing.”

Wol verhandel tans tussen R190 en R210/kg vir skoonwol. “Die vraag na gehalte is steeds hoog en wolboere moet sorg dat hulle skeertyd in die skeerhok is om die klasstandaard te handhaaf en te verbeter.”

Nasionale NWKV-voorsitterverslag

Guillau du Toit, voorsitter van die nasionale NWKV, het daarop gewys dat die Oos-Kaap se produksie-adviseurs, Juan Venter (westelik) en Kobus Grobler (oostelik) op studiegroepe, inligtingsdae en kursusse vir plaaswerkers fokus. “Vanjaar konsentreer die diens ook op ’n reproduksieprogram waar groepe in die provinsie gestig word wat belangrike aspekte van die reproduksiesiklus bespreek.”

“Rakende veesiektes, is biosekuriteit en die wyse waarop dit in die toekoms bestuur gaan word, van onskatbare belang. Produsente moet asseblief op ’n verhandelingsertifikaat aandring wanneer vee gekoop word.”

Volgens Guillau moet dit ook ’n bedryfsbesluit wees dat skeerders in aanvaarbare geriewe gehuisves word, en die regte prosedures moet met die skeerproses gevolg word.

Een van die moeilikste vraagstukke in die Oos-Kaap is predasiebestuur. Niël Viljoen bied kursusse aan  en werk suksesvol op verskeie demonstrasieplase in die provinsie waar hy data insamel en bestuurspraktyke toepas. Guillau het versoek dat lede meer inligting by hul produksie-adviseur kry om die kursusse by te woon.

Die NWKV is afhanklik van baie eksterne befondsing en Guillau het van die geleentheid gebruik gemaak om uit te brei oor ’n wolbedryf-ontwikkelingsfonds waaraan die NWKV werk. “Dit sal meer mag in die hande van produsente laat, en as dit goedgekeur word, wil ons dit in Augustus instel.”

Die OKRPO-waardestelsel

Francois du Toit, die RPO se Oos-Kaapse voorsitter, het na die oneindige potensiaal van rooivleisproduksie vir alle rooivleisprodusente in die provinsie verwys. “Wat sekere aspekte betref, is die stoetboere reeds jare voor die kommunale en nie-kommunale produsente met die toepassing van presisie-boerderypraktyke.”

Volgens hom moet produsente daarom op die volgende punte fokus:

  • Stel ondersoek in na genetiese potensiaal om ’n beter opbrengs te lewer.
  • Verbeter teling en seleksie.
  • Pas beter weidingsbestuur toe (wat is jou opbrengs per hektaar?).
  • Die daarstel van ’n biosekuriteitsprogram.
  • Identifikasie van diere.

“Ons  moet gereeld en aanhoudend streef na optimale produksie teen die laagste moontlike insette.”

Die uitdaging is om meer rooivleis te produseer en markgerig te word. “Vooruitsigte lyk belowend en daar word verwag dat die vraag na ons produk met 25 tot 30% gaan styg. Die uitvoermarkte toon ook voortdurende groei. Die RPO se tariefbeskerming, die Ad volarem-heffing op invoer, is 40% – die hoogste invoerheffing in die land.”

 Dieregesondheid

Onderstepoort se vermoë om entstof betyds beskikbaar te stel, is nog nie op standaard nie, het Francois gesê. Die aanstelling van dr Pieter Vervoort in die direksie hou belofte van verbetering in. “Ons hou die situasie fyn dop. Waar van toepassing, sal alternatiewe ondersoek word. Dit kan dalk duurder wees, maar die gesondheid van ons kuddes is nie onderhandelbaar nie.”

 Brusellose en trichomoniase (trich) is ’n kommerwekkende probleem. Hondsdolheid is ook ’n probleem en produsente moet voorsorg daarteen tref.

Veediefstal

’n Groot struikelblok wat die rooivleisbedryf ernstig benadeel, is veediefstal. “Dit tref geen onderskeid tussen kommunale en nie-kommunale produsente nie, almal loop deur. Een rede vir die swak oplossingsyfer is dat diere nie behoorlik en korrek gemerk word nie.” Produsente op plaaslike vlak moet met die veediefstal-eenhede kommunikeer en gereeld vergaderings bywoon om tendense te identifiseer.

Op ’n positiewe noot het hy na die RPO se kommunale afdeling wat sterk groei, verwys. Die bestuurslede onder leiding van Kirmish Dyokolwana (OKRPO se ondervoorsitter, kommunaal), sowel as OKRPO lede en die dagbestuur is vir hul insette bedank.

Laastens het hy gemaan, “Onthou, die verbruiker is ‘die leë stoel in die saal’ en ons moet aan hul waardestelsels, voldoen.”

Nasionale RPO-voorsitterverslag

Willie Clack, nasionale ondervoorsitter van die RPO, het gesê Suid-Afrikaanse produsente is nie mededingend in die land en wêreldwyd nie. “Ons produsente is nie op standaard wat rekordhouding van diere, reproduksie-verbetering, en genetiese verbetering, met ander woorde genomika, betref nie.

“Dit is positief dat vleispryse plaaslik en wêreldwyd aansienlik gestyg het. Verstedeliking neem toe en verbruikers is baie meer gesofistikeerd en spesifiek oor wat hulle eet. Die meeste stedelinge koop nie meer ’n hele of halwe skaap nie, maar wil weekliks besluit wat op die spyskaart is. Daarom koop hulle meer gereeld kleiner hoeveelhede vleis. Die RPO oorweeg deurentyd verskeie opsies wat die verbruiker se behoeftes sal aanvul.”

Willie het gesê in die lig van listeriose, gaan die RPO meer geld beskikbaar gaan stel om huishoudings oor die gebruik van rooivleis op te voed. “Die RPO moet begin vrae vra oor onafhanklike vleisinspeksieskemas.”

Hy het gesê ’n leemte bestaan aan ’n vee-identifikasie- en opspoorbaarheidstelsel in die land, en in die lig van veediefstal, is skaapdiefstal die grootste in die Oos-Kaap. – Carin Venter, Veeplaas