HB van der Walt, voorsitter van die Oos-Kaap NWKV.

HB van der Walt, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die Oos-Kaap, het tydens dié organisasie se jaarvergadering verslag gedoen oor hul aktiwiteite die afgelope jaar. Produksietoestande is deur ’n strawwe droogte gekenmerk en daar word spesifiek gedink aan boere in die westelike en suidelike dele, waar glad nie of baie min reën geval het.

Van der Walt het verlede jaar melding gemaak van die droogte se uitwerking toe hy gerapporteer het dat produksie in die Oos-Kaap in die 2016/17-seisoen tot 18,15 miljoen kilogram gestyg het. Toe die produksiesyfers vir 2017/18 bekendgemaak is, het dit gewys dat sy voorspelling akkuraat was. Die Oos-Kaapse syfers wys dat wolproduksie in dié tydperk tot 12,97 miljoen kilogram gedaal het. Hy meen die huidige droogte gaan verseker ’n verdere negatiewe uitwerking in die 2018/19-seisoen hê.

Aangesien die aanvraag vir hoë gehalte wol steeds hoog is, is dit belangrik dat boere tydens skeertyd in die skeerhok is om klasstandaarde te handhaaf en te verbeter. Met die verbod op woluitvoere na China en die gepaardgaande belangrikheid van naspeurbaarheid, gaan hierdie belangrike bestuurspraktyk en die algehele handhawing van die Kode van Beste Praktyke al belangriker word.

Op die kommersiële front is daar groot waardering vir die produksie-adviseurs, Juan Venter en Kobus Grobler. Bestuurslede is aangemoedig om van hulle produksie-adviesdienste gebruik te maak. Daar is met groot opgewondenheid gerapporteer dat meer as 250 produsente die reproduksiekursus bygewoon het. Positiewe terugvoer is oor die inhoud van die kursus ontvang. – Persverklaring