Die Oos- en Noord-Vrystaat loop deesdae erg onder veediefstal deur. Volgens die VKB VL Veiligheidslessenaar se inligting word veediefstal die laaste twee tot drie maande toenemend in gebiede soos Tweeling, Frankfort/Mafube, Heilbron, Reitz, Sasolburg, Warden, asook in die Oos-Vrystaat in Clocolan, Ficksburg, Fouriesburg, Harrismith, Lindley, Marquard en Petrus Steyn aangemeld.

In die Noord-Vrystaat word gebiede wat naby die N1 geleë is, ook geteiken. Dié gebiede  is Brandfort, Koppies, Parys, Odendaalsrus, Theunissen, Ventersburg en Winburg.

Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), meen dit is ’n aanduiding dat vee in Suid-Afrika, en veral in die Vrystaat, gesteel en oorgrens na Lesotho geneem en teruggebring word na Suid-Afrika met nuwe brandmerke (veral kalwers).

Vervoer van gesteelde vee

“Die gesteelde vee word met bakkies en sleepwaens na veilings vervoer. Die veilings en afsetgebiede/markte vir vermoedelik gesteelde vee is veral in die Gauteng-gebied geleë,” sê Buys.

Die meeste veilings in Gauteng vind vanaf Dinsdae tot Saterdae plaas. Dus vind daar deurlopende beweging/vervoer van vee vanaf Maandae tot Saterdae op primêre, tersiêre en sekondêre paaie deur die Vrystaat plaas.

Volgens Buys is ook bevestig dat nagenoeg 90% van alle gesteelde vee wat aan die Interprovinsiale Veediefstalvoorkomingsforum (IPVVF) tussen Gauteng, Noordwes, die Vrystaat en Mpumalanga gerapporteer word, opgespoor en teruggevind word. Dus maak dit dié forum baie suksesvol. Die oorgrens-forum tussen Suid-Afrika en Lesotho moet egter herleef word. Hoe vinniger veediefstal aangemeld word, hoe groter is die kanse op sukses om vee terug te vind en misdadigers te arresteer.

Roetes en afsetgebiede geïdentifiseer

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens is op prioriteitskomitee-vlak versoek om toenemend ontwrigtingsaksies, soos byvoorbeeld padblokkades op tien geïdentifiseerde roetes wat problematies is met die vervoer van vermoedelik gesteelde vee vanaf Lesotho na Suid-Afrika deur die Vrystaat na Gauteng, te hou,” sê Buys.

Verder is elf afsetgebiede/markte vir gesteelde vee in Gauteng en Noordwes in samewerking met die Rooivleisprodusente-organisasie geïdentifiseer, waar vermoedelik gesteelde vee verhandel word. Nagenoeg tien abattoirs is ook geïdentifiseer wat deur middel van inspeksies gemonitor moet word vir vermoedelik gesteelde vee. – Vrystaat Landbou

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here