OP hou jeugskou op Hofmeyr

898

Die Oostelike Provinsie se derde jeugskoukampioenskap het op 16 en 17 Maart op Hofmeyr se skouterrein plaasgevind waar die jeugskouring spesiaal vir die geleentheid opgeknap is. Deelnemers het reeds vooraf kwalifiserende skoue bygewoon om vir die provinsiale span te kwalifiseer. Volgende jaar sal slegs deelnemers wat aan die Oostelike Provinsie se jeugskoukampioenskap deelneem wel vir toelating tot die span kwalifiseer.

Johan van der Colff was soos altyd die aankondiger en het tydens die twee dae lange kompetisie vir ’n bietjie vermaak gesorg, of sommer net rustig met die deelnemers, beoordelaars en toeskouers oor die reëls van die kompetisie gesels.

Marguerite Hoffman, sameroeper van die OP-jeugskou, het gereël dat ’n groepie skoolkinders van Hofmeyr wat nog nooit geskou het nie, ’n demonstrasie waar vleisbokke gewas en voorberei word, gadeslaan. Daarna het elkeen van hulle ook ’n beurt gekry om dit onder ’n wakende oog te doen.

Elke jeugskoudeelnemer moet oudergewoonte eksamen skryf en daarna was dit tyd vir was en voorbereiding in aanloop na die skoumanvertoning. Tydens die skoumanvertoning was die kinders netjies aangetrek, hul diere skoon en gepoets. Volgens die beoordelaars was die kompetisie in sekere afdelings, soos die senior veselbok-afdeling, baie sterk, en was daar ook enkele nuwelinge wat die kompetisie se standaard verhoog het.

Amour Strydom (koördineerder) het die kinders vir hul deelname en deursettingsvermoë geprys, en hulle aangemoedig om alles in te sit vir die jeugskou, asook vir die nasionale jeugskoukompetisie wat van 1 tot 3 Oktober in George plaasvind. – Carin Venter, Veeplaas