Maandag, 28 Januarie

RSG Landbou kyk gewoonlik Maandae na ’n paar veilings wat plaasvind. Hennie Maas is oudergewoonte aan die woord en daar is dié rondte sommer ’n hele paar veilings waaroor daar gepraat word. Daar is ook ’n bydrae oor menggrasse vir weiding, deur Henk Crafford van Agricol. Daarna praat Johan van den Berg van Santam Landbou oor algemene weersomstandighede. Hy gesels ook meer oor die dele van die land waar daar steeds erge droogte heers. Ten laaste is daar ’n lekker gesprek met Heiko Köster, direkteur van Kaonne Investments, oor die belangrikheid van voervloeibeplanning.

Dinsdag, 29 Januarie

In Dinsdag se aflewering van RSG Landbou fokus ons op ’n wye verskeidenheid onderwerpe. Dr Frikkie Maré van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, is eerste aan die woord en hy praat oor die stand van die ekonomie en veral landbou. Daarna gesels Kenneth Botha van Barnlab oor moderne melkstelsels, insluitend robotiese stelsels, wat in Suid-Afrika gebruik word. ’n Prokureur, Harry van Eetveld, verduidelik dan hoe serwitute werk, en Yolandé Roodt lewer die gereelde wolmarkverslag.

Woensdag, 30 Januarie

Almal is bewus daarvan dat aanlynverkope in die algemeen besig is om toe te neem, maar wat gebeur in die landbou? RSG Landbou skop Woensdag se program af met ’n gesprek oor aanlynverkope, en Rupert Jacobs van Hinterland gesels spesifiek oor hoe aanlynverkope landboumaatskappye raak. Daar is ook ’n gesprek met Rachelle Cloete van GMP Basic oor die belangrikheid van naspeurbaarheid in die veebedryf. Christo Bester van die LWO Werkgewersorganisasie is daarna aan die woord, en deel die belangrikheid van progressiewe reëls en riglyne in die landbouwerksplek. Die program word afgesluit deur Johan Mouton van RCL Foods, wat uitbrei oor die waarde van behoorlike voerfasiliteite.

Donderdag, 31 Januarie

In RSG Landbou se aflewering van Donderdag gesels Lise Roberts met Estie Badenhorst van Mama Anannas oor die interessante wêreld van pynappelboerdery en -verwerking.  Daar is ook ‘n bydrae deur die bekende landboufiguur, Koos Pienaar, oor ‘n groep boere wat saamstaan en landbou vorentoe wil vat, veral in droogtegeteisterde gebiede soos Bultfontein.  Dan praat Hennie Maas met Petrus Grové van Ficksburg oor ‘n groep boere wat saamgespan het om ‘n verskil in hul omgewing te maak. Hierdie inspirerende projek staan bekend as Missio Dei.

RSG Landbou word dié week aan jou gebring deur Hinterland.