Maandag, 11 Februarie

In RSG Landbou kyk ons op Maandae gewoonlik na ‘n paar veilings wat plaasvind. Hennie Maas is oudergewoonte aan die woord en daar is dié rondte sommer ‘n hele paar veilings waaroor daar gepraat word.  Daar is ook ‘n gesprek met Willem van Jaarsveld van die Limpopo Dieregesondheidsforum oor die uitbreking van bek-en-klouseer in die provinsie se Vhembe-gebied. Daarna gesels Lise Roberts met Mariaan van der Laarse oor die unieke Agrijob-projek wat in Stellenbosch van stapel gestuur is.

 Dinsdag, 12 Februarie

In Dinsdag se aflewering van RSG Landbou fokus ons op ‘n verskeidenheid lekker onderwerpe. As jy wil boer is dit nie altyd nodig om ‘n groot plaas te hê of voltyds daar te wees nie.  Hennie Maas gesels met ‘n naweekboer, Jaco Geldenhuys.  Jaco het ‘n unieke kampstelsel vir sy skaapboerdery op die been gebring, wat hom in staat stel om net naweke sy hand op die boerdery te hou.  Daar is ook ‘n gesprek met die graskenner, Fritz van Oudtshoorn, en hy gesels oor die optimale benutting van natuurlike hulpbronne soos weiding.  Daarna gesels Lise Roberts met Jan-Hendrik Venter oor byekolonies wat bedreig word.

 Woensdag, 13 Februarie

RSG Landbou skop Woensdag se program af met ‘n gesprek oor hittestres onder vee. Hennie Maas praat met ‘n spesialis-veearts in volksgesondheid, dr Jan du Preez, oor hoe hittestres by veral melkbeeste, negatiewe finansiële gevolge vir produsente kan hê.  Hy gesels onder andere ook oor die dorp waar die sogenaamde hittestres-indeks die hoogste is – Komatipoort.  Daarna gesels Lise Roberts met prof Charlie Reinhardt oor ‘n gevreesde Amerikaanse onkruid wat nou kom wortel skiet het in Suid-Afrika.

Donderdag, 14 Februarie

In Donderdag se RSG Landbou-program is Chris Derksen eerste aan die woord met die weeklikse vleispryse. Na die hou wat listeriose die varkbedryf verlede jaar toegedien het, het sake weer positief begin lyk vir produsente en rolspelers in die bedryf. ‘n Hele paar uitdagings het egter weer begin kop uitsteek. Johann Kotzé van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie gesels oor die stand van die varkbedryf en varkvleismark. Ons sluit die program af op’n baie postiewe noot! Hendrik Louw, assistent-direkteur van World of Birds, vertel ons meer oor Astral Foods se bydrae en hulp om die grootste voëlpark in Afrika te red.

RSG Landbou word dié week aan jou gebring deur Afrivet.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here