Maandag, 18 Februarie

In Maandag se program gesels Albert Loubser van Veeplaas oor die PLAAS Landboujeugstigting wat verlede jaar tydens ALFA in die lewe geroep is. Hy brei uit oor die rolspelers wat intussen deel geword het van die projek. Daarna is daar ‘n gesprek met dr Dirk Strydom van Graan SA oor ‘n studie wat hy gedoen het om te vergelyk wat die effek van die droogte op boerderye en besighede is.  Frans de Klerk is ’n tegniese analis en hy werp lig op die witmielieprys. Daar is ‘n paar veilings wat plaasvind. Hennie Maas is oudergewoonte aan die woord hieroor.

Dinsdag, 19 Februarie

In Maandag se aflewering van RSG Landbou het Albert Loubser gesels oor die PLAAS Landboujeugstigting.  Dawie Maree van FNB Landbou is dié stigting se voorsitter en hy vertel in Dinsdag se aflewering van RSG Landbou waarom hulle by die projek betrokke geraak het.  Daarna praat Hennie Maas met dr Chris van Dijk van die Melkprodusente-organisasie (MPO) oor die risiko’s waarna melkboere moet oplet.  Lise Roberts gesels dan met Luan van der Walt, ’n ekonoom by Graan SA, oor die voorlopige graanaanplantingsyfers.  Soos gewoonlik op Dinsdae sit Yolandé Roodt gereed met die jongste wolmarkverslag.

Woensdag, 20 Februarie

RSG Landbou skop Woensdag af met nog ‘n gesprek oor die PLAAS Landboujeugstigting. Die keer is EP Nel aan die woord en hy praat meer oor SALOV, beter bekend as die Suid-Afrikaanse Landbou-onderwysersvereniging, se betrokkenheid by die unieke projek. Daarna brei prof Armanda Bastos uit oor wildsiektepatrone asook verskillende tipes siektes wat tussen mens en dier oorgedra kan word. Ons sluit die program af met Phillip Lee, bestuurder veeboerdery-oplossings by Hinterland. Hy brei meer uit oor veeprodusente se beplanning vir hulle vee se oorwintering.

Donderdag, 21 Februarie

In Donderdag se program is Chris Derksen eerste aan die woord met die weeklikse vleispryse. Daarna volg ‘n verskeidenheid onderwerpe waaronder ‘n landbou-, wild- en jaguitstalling, kampering op plase asook ’n projek om flaminkkuikens te red! Engeline Gericke vertel meer oor die Castle de Wildt-uitstalling wat 28 Februarie afskop en dan gesels prof Neels van Heerden van die Tshwane Universiteit van Tegnologie oor hoe kampering op plase in die agritoerisme-prentjie pas asook watter geleenthede daar bestaan. Ons sluit die program af met die bekende sekuriteitskonsultant, Mike Bolhuis. Hy gesels egter oor iets heel anders as die sekuriteitsbedryf en vertel waarom die red van die flaminkkuikens buite Kimberley nodig was en hoe hy in die prentjie pas.

RSG Landbou word dié week aan jou gebring deur Hinterland.