Maandag, 25 Februarie

Die begrip “presisieboerdery” word al meer in die landbou gehoor. In Maandag se aflewering van RSG Landbou gesels Lise Roberts met Frederick Nel van Lindsay Africa oor presisiebesproeiing.  Besproeiing is sekerlik een van die landboubedrywighede waar ‘n presisiebenadering noodsaaklik is.  Daarna is daar gesprek met Johan Oosthuizen oor Castle de Wildt se heel eerste Landbou-, Wild- en Jag-ekspo wat later die week in Modimolle plaasvind.  Abraham Vermeulen van Syngenta verduidelik ook aan Lise Roberts wat die Syngenta 2019 Grain Academy behels. Hennie Maas verskaf oudergewoonte die nuutste veilingsnuus.

Dinsdag, 26 Februarie

Dinsdag se aflewering van RSG Landbou is propvol interessanthede.  Carin Venter, ons verslaggewer in die Oos-Kaap, het by die Merino Classic op Richmond gaan kuier en met ‘n paar kenners en boere gesels. Een van hulle is Garth Cloete wat vertel waarom hy so lief is vir die Merino-ras. Lise Roberts praat ook met ‘n jong kommersiële landbou-entrepreneur, Rikalize Reynecke, wat haarself op ‘n kommersiële basis by akwakultuur ingegrawe het. Laaste aan die woord is Agri SA se uitvoerende direkteur, Omri van Zyl, en hy gesels oor hoe die plaaslike landboubedryf daar uitsien.

Woensdag, 27 Februarie

Die vrugtebedryf se deelname aan die Fruit Logistica-byeenkoms in Berlyn, is die hooffokus van Woensdag se aflewering van RSG Landbou. Lise Roberts gesels met Konanani Liphadzi, die hoof uitvoerende beampte van Fruit SA, oor haar belewenis van die byeenkoms in Duitsland. Daarna is Roelf Pienaar van Tru-Cape aan die woord oor Suid-Afrika se deelname aan Fruit Logistica. Daar is ook ‘n gesprek met dr Louis Boag van Afrivet oor aanvullings ten opsigte van die voedingstatus van wild en vee.

Donderdag, 28 Februarie

In Donderdag se program is Chris Derksen eerste aan die woord met die weeklikse vleispryse. Bonsmara SA vier vanjaar sy 55ste bestaansjaar. Hiermee saam is daar ook die Rooi Ras-geleentheid en die nasionale vroulike-dier veiling wat binnekort op Parys plaasvind. Louis Steyl, rasadviseur by Bonsmara SA,  gesels meer oor hierdie hoogtepunt op die veekalender. Dawie Maree van FNB Landbou is dan aan die woord en hy verduidelik hoe spaar deel van jou boerdery moet wees. Ons gereelde gas en rekenmeester, Frans van Eden, brei meer uit oor die begrotingsrede en die impak van belastingwysigings op boer en besigheid.

RSG Landbou word dié week aan jou gebring deur Bonsmara SA.