Maandag, 17 September

Maandag op RSG Landbou is daar oudergewoonte veilingsnuus asook ’n verskeidenheid ander lekker onderhoude.  Die Afrikaner-beestelersgenootskap het onlangs ‘n baie suksesvolle veiling en kongres gehou.  In RSG Landbou gesels Hennie Maas met die president van die genootskap, dr Pieter de Kock, oor die geleentheid. Magda du Toit van Landbouskrywers SA het Nederland besoek om die kongres van die Federasie van Landboujoernaliste by te woon en sy vertel aan RSG Landbou-luisteraars wat hulle in die lae-lande gedoen het. Daar is ook ‘n gesprek met Ernst Retief van BirdLife South Africa oor die rol wat landbou kan speel om die voëllewe in Suid-Afrika te bewaar.  Dan gesels Jan Vosloo ook oor die SAVM-jongramveiling.

 Dinsdag, 18 September

In Dinsdag se aflewering skop ons af met ‘n gesprek oor ALFA wat by die Afridome in Parys plaasvind en fokus op een van die geleenthede wat daar plaasvind, die Hinterland Interrasvleisbeeskampioenskappe. Hennie Maas van RSG Landbou gesels met Phillip Lee hieroor.  Die onwettige handel in sigarette neem ernstige afmetings in Suid-Afrika aan.  Ons gesels met Francois van der Merwe van die Tabakinstituut oor hoe dit tabakprodusente raak.  Lynette Louw berig ook oor die afloop van die eerste Nampo Kaap wat op Bredasdorp plaasgevind het. Karoline Steenekamp vertel op RSG Landbou meer oor die Konynskou wat by Agri-Expo Livestock gaan plaasvind in Sandringham, Stellenbosch, van 11 tot 13 Oktober. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB, verduidelik hoe dit werk wanneer ‘n plaas deur ‘n bank opgeveil word.

Woensdag, 19 September

In Woensdag se RSG Landbou word ’n verskeidenheid onderwerpe bespreek. Ons gereelde gas, Frans van Eden, verduidelik hoekom opvolgbeplanning in ‘n familieboerdery belangrik is. Daarna voer Hennie Maas ‘n gesprek met prof Robin Meeske rondom die standaard van die 2018-kuilvoerkompetisie se inskrywings. Ou wingerde is ‘n spesiale aspek van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. André Morgenthal gesels oor die Old Vine-projek en die bewaring van wingerde ouer as 35 jaar. Vanjaar het Nampo Kaap in Bredasdorp die eerste keer afgeskop. Theo Vorster van Nasie in Gesprek by Nampo Kaap gee ’n lekker boodskap oor energie in die landbou en dan gee Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA, terugvoer oor die afgelope Nampo Kaap.

Donderdag, 20 September

In 20 September se aflewering van RSG Landbou is dit weer tyd vir Chris Derksen met die weeklikse vleispryse. Dr Gerrie Scholtz van die Nasionale Luserntrust gesels op RSG Landbou oor lusern, een van die belangrikste hooigewasse in Suid-Afrika. Bokboerdery in Suid-Afrika is ‘n algemene boerderyvertakking, maar die meeste verbruikers is in die duister oor waar hierdie vleis uiteindelik opeindig. Zani Veldsman van Blend Food het onlangs ‘n projek oor die bokvleisbedryf in Suid-Afrika gedoen. Sy gesels op RSG Landbou meer hieroor en oor tekortkominge in die bedryf. Gluten is ‘n proteïen wat in grane soos koring en gars voorkom. Dit het ongelukkig toenemend ‘n slegte naam onder gesondheidsbewuste verbruikers begin kry. Theresa de Beer van die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium werp lig op dié onderwerp.

RSG Landbou word dié week aan jou gebring deur Hinterland.