Maandag, 8 Oktober

Maandae praat ons gewoonlik veilingsake op RSG Landbou en Hennie Maas bring ons op hoogte hiervan. Daar is ook nuus van die Nasionale Jeugskou wat pas op George plaasgevind het. Carin Venter, ons RSG Landbou-medewerker in die Oos-Kaap, het daar gaan inloer en gesels met deelnemers en organiseerders oor die skou van vee en ook die kulinêre afdeling wat daar beoordeel is.  Een van die interessante nommers op die Agri-Expo Livestock program wat eersdaags plaasvind, is werkende skaaphonde. Lise Roberts praat met WA Hugo, wat vir RSG Landbou-luisteraars meer hieroor vertel.

Dinsdag, 9 Oktober

In Dinsdag se aflewering van RSG Landbou gesels Lise Roberts met die 2018 Kwanalu Jongboer-wenner, Ruston Shaw oor sy boerdery.  Lusern is een van die belangrikste hooigewasse in Suid-Afrika, maar verskille in kwaliteit kan ‘n merkbare uitwerking op die prestasie van vee en die produsent se winsgewendheid hê. ‘n Kenner op dié gebied, dr Gerrie Scholtz, gesels op RSG Landbou oor faktore wat die produksie hiervan kan beïnvloed. Dan luister ons na die jongste wolpryse wat by veilings op Port Elizabeth behaal is. Die geel kombers wat aan die einde van die winter oor sekere dele van die Wes-Kaap lê, is ‘n bedryf wat stadig maar seker besig is om sy plek in die mark te vestig. Morné Botes, kommersiële direkteur van Southern Oil, vertel vir RSG Landbou-luisteraars meer oor die kanolabedryf.

Woensdag, 10 Oktober

In Woensdag se RSG Landbou word ’n verskeidenheid onderwerpe bespreek. Buks Nel van Tru Cape vertel vir Hennie Maas van RSG Landbou meer oor sy Hortgro-toekenning wat hy vir sy bydrae tot die vrugtebedryf ontvang het. Vanjaar se Old Mutual Insure Nasionale Jeugskoukampioenskap, het van 1 tot 3 Oktober in George in die Suid-Kaap plaasgevind. Dit was oudergewoonte ‘n geleentheid  vir jong landbouers om hulle kennis oor produksiediere ten toon te stel, terwyl ‘n aantal voornemende sjefs ook hulle kookvernuf getoon het. Die voorsitter van Nasionale Landbou Jeugvereniging, Breyton Milford, gee op RSG Landbou terugvoer oor die kampionskappe. Daar is ook ‘n verskeidenheid ander lekker onderhoude oor dié geleentheid. Ons gesels ook met Hannes Wolvaardt, Agri Limpopo se jongboer van die jaar.

Donderdag, 11 Oktober

In 11 Oktober se aflewering van RSG Landbou is dit weer tyd vir Chris Derksen met die weeklikse vleispryse. Morné Botes, kommersiële direkteur van Southern Oil, vertel verder vir RSG Landbou-luisteraars oor kanolaproduksie en die kleinboer, Jimmy Truter gesels oor die waarde van die karoobossie vir mens en dier. Die prokureur, Hans Jurie Moolman, verduidelik die wetlike aspekte van die staat en plase. Albert van Rensburg vertel vir RSG Landbou-luisteraars meer oor die Biomin World Nutrition Forum wat verlede week in Kaapstad plaasgevind het.