Maandag, 15 Oktober
Maandae skop ons oudergewoonte af met veilingsnuus en Hennie Maas bring ons op hoogte hiervan. Een van die mense met wie ons Oos-Kaapse RSG Landbou-medewerker, Carin Venter, gesels is Ben Hall, ’n pluimveebeoordelaar want tydens die onlangse Nasionale Jeugskou beoordeel het. Dan gesels Albert Loubser oor belangrike dinge wat in Oktober-maand in veeboerderye relevant is. Sakkie Burger van VDT Prokureurs verduidelik ook die belangrikheid en werking van trusts en boedelbeplanning.

Dinsdag, 16 Oktober
In Dinsdag se aflewering skop ons af met die afgelope Alfa vee-ekspo wat in die Afridome in Parys plaasgevind het. Tydens die ekspo is talle veeverwante kompetisies aangebied. Albert Loubser gesels op RSG Landbou oor die uitslag van die kompetisies.  Daar is ook ‘n gesprek wat Carin Venter tydens die onlangse Nasionale Jeugskou opgeneem het met Jan Benson, ‘n varkbeoordelaar. Dr Gerrie Scholtz van die Nasionale Luserntrust gesels met luisteraars oor die verskillende graderings van lusern.  Yolandé Roodt is ook op haar pos met die wolmarkverslag.

Woensdag, 17 Oktober
In Woensdag se RSG Landbou word ’n verskeidenheid van lekker onderwerpe bespreek. Arbeidswetgewing is op alle werkers van toepassing en is hoofsaaklik daar om regverdigheid in die werksplek te verseker. Christo Bester van die LWO Werkgewersorganisasie, gesels op RSG Landbou oor vaste-termyn dienskontrakte. Daar is ook ‘n gesprek met die 2018 Syngenta Graan SA boer van die jaar. Die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskappe was een van die hoogtepunte tydens die afgelope Alfa vee-ekspo. Phillip Lee van Hinterland gesels oor vanjaar se twee wenners, en waarom die kompetisie so ‘n reuse sukses was.

 Donderdag, 18 Oktober
In 18 Oktober se aflewering van RSG Landbou is dit weer tyd vir Chris Derksen met die weeklikse vleispryse. Dr Barry Coates verduidelik hoe pyn by vee beheer kan word en dan gesels Kobus Kritzinger met Lise Roberts oor die SanLucar sitrusplaas se permakultuur-tuinprojek en hoe dit bygedra het tot die bemagtig van hul plaaswerkers.

Skakel elke oggend in om na dié lekker onderhoude te luister.

RSG Landbou word dié week aan jou gebring deur Hinterland.