Maandag, 19 November

Naspeurbaarheid in diereproduksie is belangrik vir die landbou as ’n geheel.  In RSG Landbou van Maandag gesels Lise Roberts met dr Pieter Vervoort van die Dieregesondheidsforum, oor waarom naspeurbaarheid so belangrik is.  Dan is daar ook ‘n gesprek met Janse Rabie van Agri SA oor die noodsaaklikheid van samewerking tussen die landbou- en mynbousektore.  Willem Botha van Netafim gesels weer verder oor besproeiing, dié keer oor die voor- en nadele van drupbesproeiing teenoor konvensionele besproeiingstelsels. Ed Naudé van Rover Toere is ook aan die woord om ons meer te vertel van die 2019 SIMA-toer wat tussen 24 en 28 Februarie in Paris Nord Villepinte in Frankryk gaan plaasvind.

Dinsdag, 20 November

In Dinsdag se aflewering van RSG Landbou fokus ons op ’n verskeidenheid van lekker onderwerpe. Ons skop die uitsending af met die PLAAS Landboujeugstigting se Veeplaas-kuddeprojek wat saam met telersorganisasies en skole onderneem word. Frikkie van Zyl van die sogenaamde Blouskool op Kroonstad gesels meer oor hulle samewerking met die Santa Gertrudis-beestelersvereniging. Daarna is Herman Kleynhans van die Santa Gertrudis-beestelersvereniging aan die woord om meer te praat oor hulle betrokkenheid by die kuddeprojek. Daar is ook ‘n bydrae van George Prinsloo van Laeveld Agrochem oor die belangrikheid van mentorskap in die landbou.  Carin Venter het onlangs by ‘n grondberaad op Haga Haga gaan oë wys en daar met onder andere Coert Jordaan en Siseko Maqoma gesels. Oudergewoonte is Dinsdag ook wolmarkverslag tyd aan luisteraars gebring deur Yolandé Roodt. Frans de Klerk bring ons op hoogte van die jongste kommoditeitspryse.

 Woensdag, 21 November

RSG Landbou skop af met ‘n ou bekende, Johan van den Berg van Santam Landbou. Hy gesels oor wat ons die volgende paar maande te wagte kan wees ten opsigte van die weer. Protek is vanjaar as Obaro se verskaffer van die jaar aangewys. Nic Bronkhorst van Obaro vertel meer oor dié toekenning. Dr Koos Coetzee van die Melkprodusente-Organisasie het die Internasionale Suiwelfederasie kongres wat vanjaar in in Suid-Korea gehou is bygewoon. Hy gee terugvoer oor die kwessies wat bespreek is. Carin Venter, RSG Landbou se medewerker in die Oos-Kaap, het onlangs ’n grondhervormingsberaad in die Oos-Kaapse kusgebied by Haga Haga bygewoon. Sy het tydens die geleentheid met Batman Lungelo van Future Farmers gesels oor oorsese opleidingsgeleenthede vir wolplaas-werkers. Sitrusvergroeningsiekte, ook bekend as geeltaksiekte, is een van die ernstigste bakteriële siektes by sitrus en word tans met arendsoë in die suidelike deel van Afrika dopgehou. Jan Hendrik Venter van die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery vertel meer hieroor. 

Donderdag, 22 November

Wiaan van der Linde is ‘n suksesvolle wildboer wat tussen Kimberley en Hopetown boer.  Hy gesels met Hennie Maas oor hoe hy by wildboerdery betrokke geraak het en waarom hy besluit het om die waardeketting wat wild bied, te benut.  Lise Roberts het onlangs die Agri-Expo Livestock-byeenkoms buite Stellenbosch bygewoon en onder andere met drie Brahman-boere gesels oor die ras se betrokkenheid by die geleentheid.  Daar is ook ‘n gesprek met prof Johan Willemse oor wat voedselsekerheid presies is. Greg Vicherat van Halls gee vir ons terugvoer oor die wêreld van avokado’s onder andere die statistiek oor produksie en verbruik daarvan.

 

Skakel gerus in om na dié lekker onderhoude te luister.

RSG Landbou word dié week aan jou gebring deur Laeveld Agrochem.