Maandag, 3 Desember

Wat presies behels agroprosessering?  Dit is die vraag waarmee ons Maandag afskop in RSG Landbou. Dr Christo Joubert van die Nasionale Landboubemarkingsraad vertel meer hieroor. Dan is daar ‘n gesprek met dr Danie Odendaal van Veearts Netwerk oor hoe insekoorgedraagde virussiektes versprei word en hoe dit voorkom kan word. Die sogenaamde “Jobs Summit” het onlangs plaasgevind en Hennie Maas gesels met Theo Boshoff van Agbiz oor die sake wat tydens die beraad bespreek is.  Lindie Stroebel van die Produce Marketing Association (PMA) Suidelike Afrika gee terugvoer oor die PMA Kleinhandelaarsnetwerkgeleentheid wat onlangs in Kaapstad plaasgevind het. Die PLAAS Landboujeugstigting se Veeplaas-kuddeprojek wat saam met telersorganisasies en skole onderneem word, vorder goed by al die betrokke skole. RSG Landbou gesels met Fanie Smit van Hoërskool Oakdale oor hoe die Sussex-kudde by hulle skool vorder.

Dinsdag, 4 Desember

In Dinsdag se aflewering van RSG Landbou word op ’n verskeidenheid lekker onderwerpe gefokus. Die Landbounavorsingsraad (LNR) doen elke jaar baie om prestasietoetsing aan te moedig. Dr Ben Greyling van die Landbounavorsingsraad (LNR) gesels oor die jaarlikse toekennings wat die instansie maak om prestasietoetsing onder veeprodusente aan te moedig.  Daar is ook ‘n gesprek met Barbara Bieldt van die Melkprodusente-organisasie (MPO) oor die heilsaamheid van melk.  Die somer is hier is al sy glorie en saam met die hitte is dit ook ook brommertyd.  Dr Johan van Rensburg van die dieregesondheidsmaatskappy, Afrivet, gesels oor die verskillende soorte brommers wat daar is en hoe dié plaag bestry kan word.

 Woensdag, 5 Desember

RSG Landbou skop af met ’n gesprek oor aartappels. Die dieetkundige, Claire Julsing Strydom van Nutrition Solutions, vertel meer oor die voedingswaarde van aartappels. Daarna is Lukas Eksteen van die Bufland-stoetery en -voerkraal aan die woord, en hy verduidelik hoe ‘n mens ‘n relatief klein voerkraal winsgewend kan bestuur. Deirdré Fourie van die Instituut vir Graangewasse gesels oor droëboon-kultivarkeuses. Die program sluit af met die immergewilde veearts, dok Faffa Malan. Hy is sedert 2015 aktief betrokke by die insameling van inligting van produksiediersiektes in Suid-Afrika, asook die voorkoming en beheer van hierdie siektes. Hy deel ‘n paar van die lesse wat hy al uit hierdie proses geleer het.

Donderdag, 6 Desember

Die Rooivleisprodusente-organisasie, oftewel RPO, het ‘n kode vir beste praktyk beskikbaar gestel aan vleisprodusente.  Donderdag se RSG Landbou skop af met HG Human en sy seun Johannes. Hulle gesels oor waarom die kode vir hulle van waarde is.  Daar is ook nuus oor die volhoubaarheid van varsproduktemarkte, wanneer Jennifer Roets met Wiam Haddad van ZZ2 praat.  Lise Roberts gesels ook met Dylan Weyer oor die Harry Gwala Agri-projek wat in KwaZulu-Natal van stapel laat gestuur is om kleinboere te help.  Daarna is Chris Derksen aan die woord met die weeklikse vleispryse.  Carin Venter, RSG Landbou se medewerker in die Oos-Kaap, gesels met Julie Truter van Karoo Ranching oor die onlangse “cattle drive” wat by hulle plaasgevind het.

 

 RSG Landbou word dié week aan jou gebring deur Afrivet.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here