Maandag, 17 Desember

Wanneer kan ‘n besproeiingstelsel as doeltreffend beskou word? En wat is die rol van drupbesproeiing in hierdie verband? In Maandag se aflewering van RSG Landbou, gesels Willem Botha van Netafim daaroor. Daar is ook nuus oor die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se wolskaapopleidings- en ontwikkelingsprogram, wanneer Lise Roberts met Leon de Beer hieroor praat.  Louw van Reenen van Beefmaster gesels oor vleisuitvoere na China en dr Dirk Strydom van Graan SA vertel oor aanpassings in die koringgraderingstelsel.

 Dinsdag, 17 Desember

In Dinsdag se aflewering van RSG Landbou word oor ’n verskeidenheid van onderwerpe gesels. Die program skop af met die Australiese beeshond. Lise Roberts het by Helen Lachenicht, ’n teler van dié uitsonderlike honde, gaan kers opsteek om meer uit te vind oor die ras en sy kenmerke.  Daar is ook ‘n gesprek met Daan Bronkhorst van Hinterland en hy praat oor die uitdagings en prestasies van dié maatskappy.  Lise gesels ook met Dewald Olivier van die SA Voerkraalvereniging oor die stand van die voerkraalbedryf en dan kyk Dawie Maree van FNB Landbou na die invloed van brandstofpryse en rentekoerse op die landbou.

 Woensdag, 19 Desember

RSG Landbou skop af met ‘n gesprek oor werkloosheid. Die nasionale werkloosheidsyfer het in die derde kwartaal van die jaar met 30 basispunte toegeneem. Die uitgebreide werkloosheidsyfer staan tans op 37,3%. Die situasie is nóg erger in landelike gebiede. Jahni de Villiers van Agri SA gesels oor hierdie probleem en wat rolspelers te doen staan. Daarna is daar ‘n gesprek oor werksure. Die Wysigingswet op Basiese Diensvoorwaardes vereis dat werkgewers hul werknemers se werksure aanteken. Christo Bester van die LWO Werkgewersorganisasie vertel hoekom dit noodsaaklik is en hoe die aanteken van werksure, die doeltreffendheid van ‘n onderneming kan bevorder. Ben Liebenberg, ‘n Suid-Afrikaanse saalmaker, gesels ook oor sy vaardigheid en sy werk in Mongolië.

Donderdag, 20 Desember

RSG Landbou fokus Donderdag op kruisteling. Inheemse Drakensberger-koeie wat saam met vroegryp Hereford-bulle in ’n kruisteeltstelsel gebruik word, vaar uitstekend. Petrus van Rensburg vertel meer oor dié karkasse se smaaklike vleis. Dr John Purchase van Agbiz is onlangs deur die Franse ambassadeur met ’n landboumerietetoekenning vereer. Dié toekenning gee erkenning aan persone en instansies wat ’n buitengewone impak op die landboubedryf het. Hy vertel meer hieroor. Die Ensminger-varksimposium word vanaf 22 tot 23 Mei 2019 vir die eerste keer in Suid-Afrika aangebied. Dr Danie Visser brei uit oor dié opwindende geleentheid. Frederik Nel, Lindsay Africa se kommersiële bestuurder vir RSA en Namibië, gesels op sy beurt oor outomatisering by besproeiingstegnologie.

RSG Landbou word dié week aan jou gebring deur Hinterland.