Maandag, 21 Januarie

Of ’n mens dit nou wil weet of nie – dis al drie weke in die nuwe jaar in en in die landbou word daar reeds vir die winter beplan. In Maandag se RSG Landbou gesels Hennie Maas met Petrus van Rooyen van PANNAR Saad oor die verskillende weidingsgewasse waaruit produsente moet kies. Dan vertel Marthinus Stander van Country Bird Holdings wat die stand van goedkoop pluimvee-invoere is en hoe dit die plaaslike braaikuikenbedryf raak. Izak Hofmeyr het op Reitz gaan kuier toe die Veeplaas/Sernick-Bonsmarakudde by Hoërskool Reitz afgelaai is. Hy het met Nick Serfontein en Philip Oosthuizen van Sernick, asook Johan Broekman, die kuddeprojekleier by die skool, gesels.  Verder is Hennie Maas soos gewoonlik aan die woord met die week se veilingsnuus.

 Dinsdag, 22 Januarie

In Dinsdag se aflewering van RSG Landbou fouks ons op ‘n verskeidenheid van lekker onderwerpe. Kalahari Red-bokke, die SA Suiwelkampioenskappe en die jongste wolmark. Hennie Maas praat met dr Faffa Malan oor sponssiekte en wat hierdie siekte onder vee veroorsaak. Dan volg daar ‘n interessante gesprek met Danie van Niekerk van Botswana oor waarom hy met Kalahari Red-bokke boer.  Dit is ook interessant om te hoor hoe hy in die boerdery beland het. Lise Roberts praat met Breyton Milford oor die komende jaarlikse SA Suiwelkampioenskappe wat in die Wes-Kaap gaan plaasvind. Ons verwelkom graag luisteraarsterugvoer en -interaksie. Indien u enige landbouvrae het, kan u gerus dit gerus aan Lynette Louw by lynette@plaasmedia.co.za stuur.

 Woensdag, 23 Januarie

RSG Landbou skop af met ‘n opvolggesprek oor hommeltuie en hoe dit in landbou gebruik kan word. Dit is na aanleiding van ‘n vorige gesprek wat Hennie Maas met André Ferreira gehad het. Ons hoor nou van James Paterson oor die gebruik van dié tuie, spesifiek in vrugteboorde. Lise Roberts praat ook met dr Christo Joubert van die Landboubemarkingsraad oor die uitdagings wat die landbou vanjaar in die gesig staar. Boere weet dat alle beeste volgens wet ‘n brandmerk moet hê, maar is dit voldoende? Ons praat met Mort Mortassagne oor brandmerke en ‘n nuwe DNS-tegnologie wat gebruik kan word om beeste mee te identifiseer.

Donderdag, 24 Januarie

RSG Landbou van Donderdag fokus op presisieboerdery in veeproduksie. JW van Niekerk, tegniese adviseur van Afgri Veevoere gesels met Hennie Maas hieroor asook oor die voeding van ‘n reproduserende koei. Daarna is Barend van der Schyff aan die woord om meer te vertel oor hoe om makadamias suksesvol te produseer. Dr Elizna Boag van Afrivet gesels oor hondsdolheid en waarom ons heeltyd van die siekte bewus moet bly.  Daarna sluit Chris Derksen die program af met die week se vleispryse.

RSG Landbou word dié week aan jou gebring deur Afrivet.