Die onlangse aankondiging dat die Clanwilliamdam opgegradeer gaan word, is goeie nuus vir Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente in die Olifantsrivierstreek en bied ’n geleentheid vir ’n broodnodige hupstoot in beleggings.

Read it in English. 

Die minister van water en sanitasie, Gugile Nkwinti, het onlangs aangekondig dat die dam se kapasiteit met 50% vergroot word deur die damwal met 13m te verhoog. Dit is ook verblydend dat die projek langverwagte konstruksie van die waterkanale, asook die uitroei van uitheemse plantegroei, insluit.

Hierdie opgraderings, wat vroeg in Oktober begin, sal meer stabiliteit in die voorsiening van water bring – nie net aan huidige gebruikers nie, maar ook besproeiingswater aan ’n bykomende 5 000 tot 10 000ha in die streek, met spesifieke fokus op ontluikende boerderye en transformasie-inisiatiewe.

Vordering is ook gemaak in beplanning vir die uitbreiding van die Brandvleidam in die Breederivierstreek, wat voldoende besproeiingswater vir ’n bykomende 4 500 ha tot voordeel van verskeie landbouprodukte in die streek sal voorsien.

“Die goedkeuring van die uitbreiding en opgradering van die Clanwilliamdam is uitstekende nuus vir die landbousektor en spesifiek vir wyndruifprodusente in die streek, wat ’n baie moeilike jaar agter die rug het vanweë die droogte,” sê Rico Basson, besturende direkteur van die wynbedryforganisasie Vinpro. “Dit sal definitief beduidende groei en sake-ontwikkeling oor die medium termyn ondersteun.”

Basson sê dit is bemoedigend om die positiewe uitkomste te sien van samewerking tussen die regering, bedryf en arbeid deur forums soos die Wine Industry Value Chain Round Table (WIVCRT) en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) se komitees. – Persverklaring