Osboerdery: ’n Handige opsie vir diversifikasie

4323
’n Groep van die laaste osse van hierdie seisoen, wat vir die mark afgerond word.

Die meeste plase in Suid-Afrika bevat dele wat as ‘moeilik’ of ‘marginaal’ beskou word, waar dit nie noodwendig optimaal is om met koeie en kalwers te boer nie. Sulke veld is egter dikwels ideaal vir ’n osboerdery.

Fourie Scheepers, ’n Bonsmara-stoetteler naby Fouriesburg in die Oos-Vrystaat, sê groot dele van sy grond is baie bergagtig en moeilik bestuurbaar as hy koeie daar aanhou. Daarenteen gedy ossies op hierdie veld en bied dit aan hom ’n ekstra opsie om waarde op sy plaas toe te voeg.

Optimale waardetoevoeging

“Die mikpunt in my boerdery is om by elke produk wat ons produseer, optimale waarde toe te voeg voordat ons dit verkoop. Ek bemark byvoorbeeld al my graan direk van die plaas af. ’n Deel daarvan word in ons eie voeraanleg tot lekke en konsentrate verwerk.

“Dieselfde geld vir my beeste en skape. By die beeste voeg ek onder andere waarde toe deur op topgenetika te konsentreer en die produk daarvan as goeie teelmateriaal aan hoofsaaklik kommersiële boere te verkoop. Verder hou ek al die speenkalwers wat nie aan my stoetstandaarde voldoen nie, terug. Ek laat hulle vir ongeveer ’n jaar op die bergveld uitgroei, voordat ek hulle in die voerkraal hier op die plaas afrond en op die plaaslike boerevereniging se vetveeveilings bemark.

“Behalwe vir die goeie benutting van hierdie moeilike veld, is ’n osboerdery ook ’n lae-risiko boerdery. Die insette is beduidend laer as in ’n koei-kalfstelsel, en daar is altyd ’n mark vir osse. As die klimaat dus nie saamspeel nie en ek ervaar ’n moeilike jaar, kan ek my osse verkoop vir onmiddellike verligting op die veld,” vertel hy.

Basiese beginsels

Fourie verduidelik dat die voordele van ’n osboerdery op ’n paar eenvoudige beginsels berus. Die eerste is om die regte tipe speenkalf aan te koop, die tweede is minimum insette, en die derde is om in ’n stelsel te bly en nie rond te val met jou aankooptyd nie.

Fourie Scheepers.

Hy koop sy kalwers in Maart en April by spesifieke verskaffers. Hy koop meestal by boere wat by hom bulle koop. Sy gewigskriterium is tussen 250 en 280kg. Hy wil nie eintlik swaarder gaan nie, want dit is te maklik om dan ’n ouer kalf te koop wat nie behoorlik groei nie.

“Omdat ek eintlik my eie genetika terugkoop, het ek die bykomende versekering dat die diere goed sal doen in die voerkraal. Aan die ander kant is dit ook voordelig vir my verskaffer, omdat ek hom ’n premie van sowat 50c/kg betaal. Dit spoor hom aan om seker te maak sy bestuur is reg om goeie, gesonde kalwers aan my te verskaf,” sê hy.

Die kalwers oorwinter in die berge, met slegs ’n minimale lek sodat hulle nie gewig verloor nie. Hulle groei dan baie aggressief in die volgende somer en gaan teen April voerkraal toe vir sowat 100 dae. Teen die tyd dat hulle voerkraal toe gaan, het hulle gemiddeld sowat 120kg gewig aangesit.

Verspreiding van risiko’s

Fourie glo ’n osboerdery is ’n uitstekende manier om risiko in veeboerdery, wat voortdurend toeneem, te versprei. “Hou effens minder koeie en kalwers aan en benut jou moeilike veld met osse. Dit laat ruimte om net jou beste verse vir vervanging te hou en jou swakker diere te gebruik om die swakker dele op jou plaas optimaal te benut. Wanneer dit droog is en jy ’n tekort aan weiding het, kan jy die osse verkoop en jou kernkudde behou.”

Volgens hom is een van die voordele daarvan om sy eie graan te bemark, dat hy al die afvalstowwe self in sy voerkraal kan gebruik.

Afronding en voeromset

’n Belangrike aspek van die tyd waarop hy die osse begin afrond, is dat dit ná die reënseisoen is. Dit beteken dat hy nie ’n modderprobleem in die voerkraal het nie.

Hoewel ’n os van 18 maande se voeromset nie so goed is soos dié van ’n speenkalf nie, sal die ekstra 120kg wat daardie os in die veld aan sy raam aangesit het behoorlik opmaak hiervoor.

“Ek werk op die beginsel dat ’n bees 3% van sy liggaamsgewig per dag vreet. Dit beteken dat my osse, wat sowat 380kg weeg as hulle in die kraal kom, sowat 11,5kg per dag vreet. Daarenteen vreet ’n speenkalf van 320kg sowat 9,6kg. Ek vind egter dat die osse maklik 2 tot 2,5kg per dag groei. Ek vermoed dis omdat hulle klaar ’n raam het waaraan hulle gewig kan sit. Verder is hulle spysverteringstelsel goed ontwikkel en is hulle baie meer lewenskragtig omdat hulle ouer is,” verduidelik Fourie.

Pryse by die Fouriesburg-vetveeveiling bevestig die hoë dunk wat kopers van hierdie osse het. Op ’n veiling in September was daar byvoorbeeld geen prysverskil tussen gewisselde en ongewisselde diere nie. Die gemiddelde prys vir diere wat tussen 480 en 650kg geweeg het, was sowat R26/kg op die hoef. Tydens dié veiling het Fourie ook die beste prys per kilogram vir ’n os gekry, naamlik R28,16 vir ’n ongewisselde os van 625kg.

Min insette, groter opbrengs

Afgesien van die winterlek gedurende die winter, is die enigste insette wat die osse verg entstowwe teen spons-, milt- en lamsiekte, asook knopvelsiekte. Hulle word ook ontwurm as hulle op die plaas aankom. Voordat hulle voerkraal toe gaan, word hulle weer ontwurm en met vitamien A ingespuit. Die koste per dier gedurende die jaar in die veld is sowat R400.

Fourie sê hy het vanjaar sowat R8 500 per speenkalf betaal. “Kom ons sit R500 by vir bestuur, gesondheidsorg en lek. Tel dan R3 500 by vir voerkoste in die kraal en dit bring jou insetkoste tot R12 500. Kom ons wees baie konserwatief en bereken dat ek ’n gemiddelde prys van R14 500 vir ’n afgeronde os kry. Dis ’n opbrengs van R2 000 per os, wat oor ’n tydperk van ’n jaar gegenereer is, met laer bestuursinsette.”

Hy meen ’n osboerdery is beslis ’n opsie vir saaiboere wat wil diversifiseer en oesreste en graanafval goed kan benut om waarde toe te voeg. “Dit is egter baie belangrik om dan die volle roete te volg en nie halfpad moed op te gee nie. Die groot waarde lê daarin om die dier optimaal af te rond, want anders klop jy nie die speenkalfstelsel nie.”

Bestuur en weidingsimpak

Fourie waarsku dat dit belangrik is om ’n stelsel te hê waarbinne jy die osboerdery bestuur. “Koop elke jaar op dieselfde tyd jou osse aan. Maak seker hulle voldoen aan jou vereistes en koop verkieslik van mense wat jy vertrou. Hou by ’n goed beplande inentingskedule en maak seker jy gee die nodige lek.”

Met ’n osboerdery kan ’n mens twee osse op jou veld aanhou, pleks van ’n koei met ’n kalf. Die osse vreet gesamentlik ongeveer dieselfde as ’n koei met ’n kalf.

’n Kalf se weidingsimpak regdeur die jaar is sowat 0,7ha per grootvee-eenheid (GVE). Daarenteen is ’n koei se impak gelykstaande aan een GVE, en as haar kalf groot is, tussen 1,3 en 1,4 GVE per hektaar. Verder moet ’n mens ’n koei regdeur die jaar versorg, terwyl ’n os enige tyd verkoop kan word as jy in ’n droë jaar minder weiding beskikbaar het.

Die somme klop

Volgens Fourie vermeerder ’n os se weidingsimpak soos hy groei, maar kan ’n mens ’n gemiddeld van 0,7ha neem vir die doeleindes van hierdie som. “Jy kan dus osse pleks van koeie met kalwers op dieselfde dra-eenheid akkommodeer. Jy is dan feitlik verseker dat jy op dieselfde oppervlakte, 240kg vleis goedkoper en feitlik gewaarborg gaan kry. ’n Koei-kalfstelsel se insette is hoër. Enige afwyking van ’n 100% speenpersentasie tel dus in die guns van osboerdery.

“Nog ’n voordeel met osse is dat jy die troppe groter of kleiner kan maak soos wat die kampe dit vereis. Hulle kan ook gebruik word om kampe met hoëdrukbeweiding skoon te maak. As dit swaar gaan, kan die troppe kleiner en meer gemaak word sonder om die bestuur moeiliker te maak.

“ ’n Osboerdery is ongetwyfeld iets om te oorweeg as jy risiko wil versprei en waarde wil toevoeg, terwyl jy moeilike dele op jou plaas beter benut,” sê hy. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Fourie Scheepers by 083 701 8382.