Oumansoutbos (Atriplex nummularia) is ’n bekende gesig in Suid-Afrika en die geharde plant wat saliniteits- sowel as droogtetoestande goed verdra, is veral opmerklik in dele waar daar ’n laer reënvalsyfer is en ekstensief met kleinvee geboer word.

Read it in English

Soutbos is destyds vanaf Australië ingevoer waar ongeveer 60 verskillende spesies voorkom. Grootfontein Landboukollege het daarna baie navorsing oor die verskillende smaakvariasies en merkwaardige eienskappe van die plant gedoen, met die gevolg dat die gewildheid van die meerjarige droëland- en somerweidingsgewas veral gedurende die 1970’s en 1980’s toegeneem het.

Grootfontein Landboukollege het vroeër jare saad vanaf Australië ingevoer en baie navorsing oor die smaaklikheidsverskille van soutbos gedoen. So het die Grootfontein De Kock-seleksie vir geselekteerde smaaklikheid ontstaan en het Australië in ’n stadium van dié saad terug ingevoer. Volgens dr Paul Malan is die meeste soutbosplante wat ’n mens vandag in die Karoo sien die onsmaaklike tipes omdat al die smaaklikes selektief opgevreet is. (Foto: Stefan Erasmus)

Die vraag is of oumansoutbos steeds as ’n gewilde voedingsbron beskou word? En, is daar ’n toekoms vir die bos in Suid-Afrika, gegewe dit as ’n kategorie 2-indringer geklassifiseer is, wat beteken dat ’n permit nodig is om dit onder beheerde omstandighede te kweek en aan te plant?

Onsmaaklik op die tong

Soutbos het twee gebruike, volgens dr Aart-Jan Verschoor, senior bestuurder van strategiese inligtingsbestuur by die Landbounavorsingsraad (LNR).

Die een is wanneer jou diere tydens droogte van die honger vrek en jy iets soek om hulle tot die volgende groeiseisoen aan die lewe te hou. As jy ’n voerbank van soutbos het, kan jou diere daarop oorleef. Die ander is dat dit ’n voedselbron met redelike goeie voedingswaarde is, waarmee jy met byvoeding soos mielies jou diere se kondisie kan afrond om bemark te word.

Oumansoutbos is geskik as veevoer in ekstensiewe en droogtegebiede, maar is ook handig as ’n plantbedekking om erosie en grondverliese in braaklande teen te werk. (Foto: Dr Paul Malan)

“Soutbos is oor die algemeen nie baie smaaklik nie en dit neem skape twee tot drie dae om daaraan gewoond te raak.” Die plante het ook ’n hoë soutinhoud. Volgens dr Verschoor is die blare met hare, oftewel trigome bedek, wat sout opgaar en stoor, en soms oopbars om soute vry te stel. “Die einste souterige plant se blare bevat tussen 70 en 80% water, wat maak dat diere ander droë plantmateriaal beter daarmee saam kan benut. En buiten ’n goed ontwikkelde wortelstelsel, is dit net nóg een van die redes waarom dit so goed as ’n veevoer en reserwegewas in droogtetoestande vaar.”

Hierdie soutliewende plante (halofiete) bly selfs gedurende droogtetoestande groen en sappig, en pas dus aan by die meeste grond- en klimaatstoestande soos ryp en koue, waaronder die Karoo dikwels deurloop.

Dr Verschoor voeg by dat dit ook ’n tweehuisige plant is, met ander woorde daar is aparte manlike en vroulike plante. “Die plante maak baie doeltreffend van min water gebruik met relatief hoë opbrengste in redelike ongunstige omstandighede. Een van die belangrike eienskappe daarvan is dat dit op verbrakte grond, wat deur oormatige besproeiing in onbruik geraak het, kan floreer.”

Vestiging en bestuur

Hoewel dié soutbos steeds as ’n veevoer en reserwevoer gebruik word, het die hoeveelheid aanplantings daarvan oor die jare getaan.

Volgens dr Paul Malan by die Departement Vee, Wild en Weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, is die rede hiervoor waarskynlik dat dit ’n tydsame proses is om die saad te laat ontkiem en dit nie so maklik is om soutbos te vestig nie. “Die plante groei slegs gedurende lente en herfs en nadat die plantjies uitgeplant is, neem dit ’n hele ruk voordat dit bewei kan word,” sê hy.

Dr Verschoor beaam dat die vestiging van saailinge met oorleg bestuur moet word. Dit neem ʼn kiemplant gewoonlik ʼn jaar om tot ʼn beweibare struik te ontwikkel. Hy sê dat die kiemplant-bos reeds vanaf agt maande benut kan word, maar verkieslik eers na ’n jaar se goeie groei.

Die proses om die saad tot beweibare soutbos te ontwikkel, lyk soos volg:

  • Die saad word eers afgespoel om remstowwe te verwyder. Die spoelwater moet twee tot drie dae lank, twee maal per dag vervang word.
  • Die saad ontkiem verkieslik in saailaaie of sakkies, of in klam, bedekte grond.
  • Die verharde saailinge met ’n houtagtige stammetjie van 20cm word verplant met aanvanklike besproeiing en goeie onkruidbeheer. Gewoonlik word 2 500 tot 3 000 plante per hektaar geplant.
  • Enkele besproeiings gedurende die eerste jaar is ’n goeie idee om plantontwikkeling te bespoedig.
  • Soutbos moet jaarliks of tweejaarliks teruggesnoei word, sodat die sappige lote binne bereik van die diere kan bly. Nog ’n rede is dat ouer, harde soutbosstokke snytoerusting kan beskadig.

Voedingswaarde en weikapasiteit

Soutbos se drakrag is uitstekend en navorsing toon dat ’n mens van twee tot 15 kleinvee-eenhede (KVE) per hektaar per jaar op soutbos kan aanhou. Volgens Grootfontein Landboukollege se studies, werk dit uit op soveel as 21 skape per hektaar vir vier maande by ’n plantdigtheid van 2 500 plante per hektaar.

Omdat soutbos nie smaaklik is nie, word ’n relatief hoë weidruk aanbeveel. “Behalwe vir ’n hoë weikapasiteit, beskik die bos oor ’n goeie herstelvermoë na strawwe beweiding. Een van die voordele daarvan is dat die bosse jaarliks swaar benut kan word, sonder dat dit ’n blywende nadelige uitwerking op die groeikrag daarvan het. Indien soutbos per groeiseisoen baie swaar bewei word, is die aanbeveling dat die plante daarna ses tot agt maande rus om genoegsaam te herstel,” sê dr Verschoor.

Soutbos is ’n luukse natrium- en kaliumvoeder met droëmateriaal (DM)-produksiesyfers van tussen 2 en 4,76 ton DM/ha. Dit het ook ’n hoë ruproteïeninhoud van 12 tot 24% wat hoogs verteerbaar is. Energieryke aanvulling soos mielies, hooi of lusern word dikwels by soutbos gevoeg, omdat die ruproteïen in die soutbos vinnig in ’n skaap se rumen in vlugtige ammoniak omsit, wat nie goed in die spysverteringskanaal geabsorbeer word nie. Energieryke aanvulling werk hierdie vinnige vervlugtiging teen.

’n Goeie voorbeeld van optimale soutbosbenutting is die volstruisbedryf, waar produsente in die Klein Karoo die soutbosvoerbank met lusernhooi, melasse of mielies aanvul vir afronding van die volstruise. “Daarom glo ek soutbos het beslis ’n plek in die voerrantsoen,” sê dr Verschoor, “veral noudat dit wil voorkom asof ons weerpatrone verander, met meer intense reënbuie en langer tye sonder reën.”

Gebruike van oumansoutbos

1. Soutbos kan droogteskade en kosskaarste buffer.
2. Dit is ideaal vir strategiese onttrekking van veld en uiters geskik as ‘n voerbank om druk op veld te verlig.
3. Dit kan met lusernhooi, mielies of melasse aangevul word.
4. Dit is ’n goeie onderhoudruvoer tesame met bykomende energievoeding.
5. Dit is ’n goedkoop, hoëgehalte alternatief wat die beste saam met ’n energie-aanvulling presteer.
6. Soutbosmeel kan tot 30% van lusern in volstruisrantsoene vervang.
7. Soutbos is ’n tipiese aanvullende, proteïenryke gewas met ’n verskeidenheid onbekende voedingsbestanddele.

Vir meer inligting, kontak dr Aart-Jan Verschoor by 084 505 3647 AartJan@arc.agric.za, of kontak dr Paul Malan by 084 581 0532 of MalanPJ@ufs.ac.za. – Carin Venter, Veeplaas