Agri SA sê in ‘n persverklaring die organisasie is baie bekommerd oor verskeie aspekte van die Presidensiële Raadgewende Paneel oor grondhervorming se paneelverslag, wat insluit omstrede voorstelle soos die wysiging van die Grondwet en grondplafonne. Agri SA ondersteun nie enige beleid of wetgewing wat inbreuk maak op eiendomsregte of enige ander fundamentele reg wat deur die Grondwet beskerm word nie.

Read it in English.

“Indien die voorstelle in die verslag geïmplementeer word soos dit uitgestippel is, sal dit voedselsekerheid vir elke Suid-Afrikaner in die weegskaal hang,” sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur. “Beleggers- en sakevertroue is reeds laag en die laaste ding wat ons nou nodig het, is nóg druk op die ekonomie en die landbousektor.”

Privaatsektor-oplossings

Agri SA se president, Dan Kriek, is ’n lid van die Presidensiële Raadgewende Paneel oor grondhervorming en het homself heelhartig tot die proses verbind. Dit het egter mettertyd duidelik geword dat daar fundamentele verskille tussen paneellede is in hul opinie oor en benadering tot grondhervorming. Kriek en sy mede-paneellid, Nick Serfontein, het daarom ’n alternatiewe verslag saamgestel wat veral op privaatsektor-oplossings fokus.

“Die alternatiewe verslag bied sinvolle oplossings vir grondhervorming, wat nie in besonderhede uitgespel word in die paneelverslag nie,” sê Annelize Crosby, Agri SA beleidshoof oor grond. “Ons is van mening dat grondhervorming in plaasgebiede vooruit sal kan beweeg met die daarstel van ’n landbou-ontwikkelingsagentskap, waar die privaatsektor in die bestuur en finansiering van volhoubare grondhervorming die voortou kan neem.”

Implementering van betekenisvolle projekte

Tydrowende konsultasieprosesse wat na verwagting op die bekendstelling van die paneelverslag sal volg, kan die implementering van grondhervorming kniehalter.

“Ons moet nou eerder saamwerk en betekenisvolle projekte implementeer tot voordeel van die sektor,” sê Crosby. “Indien die konsultasieprosesse wel begin, sal Agri SA daaraan deelneem en seker maak dat die ekonomiese realiteite wat nie genoegsaam in die paneelverslag in ag geneem word nie, ook aangespreek word.”

Agri SA teen wysiging van die eiendomsklousule

Agri SA is ook bekommerd oor die mosie in die parlement wat Donderdag bekendgemaak is. Dié mosie dui op ‘n duidelike voorneme deur die regerende party om voort te gaan met die onnodige en potensiële skadelike wysiging van die eiendomsklousule.

“Dit word duidelik net om politieke redes gedoen, omdat dit nie geregverdig is nie en geen oplossing vir grondhervorming bied nie,” het Crosby gesê.

Agri SA bly verbind tot ons lede en die volhoubaarheid van die landbousektor. Agri SA wil benadruk dat ons teen enige wysiging van die Grondwet gekant is en geen steen onaangeraak sal laat om die regte van boere te beskerm nie. – Persverklaring, Agri SA