Die Obaro Loskop Prestigedag het vanjaar weer vir groot opwinding gesorg met die bekende joernalis en skrywer, Jacques Pauw, wat as gasspreker tydens die geleentheid opgetree het. Sy boek The President’s Keepers: Those who keep Zuma in power and out of prison was die hooftema gedurende die dag.

Jacques het die boere saamgeneem deur sy ontdekkingsreis oor hoe hy die korrupsie onder Jacob Zuma se regering ontbloot het. Hy het tydens sy toespraak ook grondhervorming aangeraak en boere gemaan om te luister en te kyk wat gedoen kan word om dit te laat werk.

Eben Pienaar, Obaro voorsitter, het van die geleentheid gebruik gemaak om boere aan te moedig om saam te staan. “Boere moet betrokke raak by georganiseerde landbou sodat ons op die regte platforms ons stemme kan laat hoor en saam ’n verskil kan maak. Dit is almal se verantwoordelikheid om hul plig te doen en aktiviste te wees vir landbou en ’n skoon regering.”

Die Loskop Prestigedag het vanjaar op dieselfde dag as Wêreld Water Dag geval, en met die reën wat mildelik uitgesak het tydens die verrigtinge kon dit nie anders as om boere aan te moedig om waterwys te boer nie. “Water is ’n skaars hulpbron en boere moet dit oppas en hul deel doen om dit doeltreffend en spaarsamig toe te dien,” sê Eben. – Persverklaring