Die COVID-19-pandemie en grendeltydperk het beteken dat talle skoue en jaarlikse geleenthede in die Wes-Kaap nie vanjaar gerealiseer het nie. Dit het ’n span perdeliefhebbers wat gereeld hul perdekarre inspan, genoop om ’n wegbreeknaweek te reël die oomblik toe inperkingsregulasies dit toelaat.

Herman Burger, Paul Nieuwoudt en Piet Lourens, alombekend as Piet Perd, het die naweek gereël. Perdekarentoesiaste het op die plaas Kareekolk van Leon en Vicky Theunissen byeengekom vir dié byeenkoms – die eerste van sy soort – wat die eerste naweek in Oktober plaasgevind het.

Paul Nieuwoudt (links) oorhandig die skenkings aan Susan de Lange (middel) en Alicia Pretorius (regs) van die Tankwa-padstal vir die gemeenskapsprojek.

Kareekolk is in die Tankwa Karoo geleë, neffens die Tankwa Karoo Nasionale Park. Die gebied het agt jaar laas enige reën gesien en die ‘niks’ groei letterlik kniehoogte hier.

Samesyn van perdekarentoesiaste

Die Theunissens het hul kampterrein goedgunstiglik vir die geleentheid beskikbaar gestel, en Herman en Annelie Burger het gesorg dat die besoekers lekker eet. Die naweek was geheel en al gratis en die kos is deur vrywilligers geborg.

Sowat 70 perdekarentoesiaste met 15 karretjies het by die geleentheid saamgetrek.

Sowat 70 perdekarentoesiaste met 15 karretjies het by die geleentheid saamgetrek. Die besoekers was van regoor die Swartland, Boland en Suid-Kaap. Die rit het oor 20km deur die veld plaasgevind, vanaf die kampterrein tot by die Tankwa-padstal. Middagete is daar geniet, waarna die karre die rit terug kamp toe aangepak het.

Die Tankwa-gemeenskapsprojek

As deel van die geleentheid, het die organiseerders boeke, klere en twee fietse aan die Tankwa-gemeenskapsprojek geskenk. Die organisasie hou jaarliks fondsinsamelings vir die karretjiemense van die gebied en sien dan ook om na die welstand van die perde en donkies wat die karretjies deur dié dorre wêreld trek.

’n Biblioteek is by die Tankwa-padstal opgerig, waar mense boeke kan kom uitneem en weer terugbring. – William van Zyl, perdekarentoesias en veearts