aartappels
Die sprekers by die Aartappeldag in Howick. Van links staan dr Mariette Marais van die LNR op Roodeplaat, James Arathoon van die KZN Departement van Landbou op Cedara, dr Mieke Daneel van die LNR op Nelspruit, Mike Green, ASA se direkteur vir KZN, dr Fienie Niederwieser, navorsingsbestuurder by ASA, en prof Jacquie van der Waals van die Universiteit van Pretoria.

Aartappels Suid-Afrika (ASA) befonds verskeie navorsingsprojekte tot voordeel van die aartappelbedryf. Tydens ’n onlangse mini-navorsingsimposium in Howick in KwaZulu-Natal (KZN), is terugvoer aan aartappelboere gegee oor die vordering van sommige van hierdie projekte. 

Lees meer oor pesbeheer in aartappels in die jongste uitgawe van CHIPS.

Volgens dr Fienie Niederwieser, navorsingsbestuurder by ASA, het die eerste aanbieding by die simposium oor aartappelmot gegaan. Hierdie plaag, sê dr Niederwieser, is besig om na gebiede te versprei waar dit nie voorheen ’n probleem was nie, soos KZN. Daarna het twee aanbiedings oor aalwurmbeheer gevolg.

Aalwurm, verduidelik sy, is lankal met ons, en in die verlede was die meerderheid beheermaatreëls op chemiese behandeling gebaseer. Baie van hierdie chemiese middels word egter tans veral in Noord-Amerika en Europa van die mark onttrek as gevolg van die omgewingsimpak wat dit kan hê. Dit beteken dat daar na alternatiewe beheermaatreëls gekyk moet word. 

“Geen van die alternatiewe maatreëls wat bestudeer word is op sigself so effektief soos die chemiese middels nie,” sê sy. “Dit beteken dat ’n holistiese benadering, wat ’n hele aantal maatreëls insluit, gevolg moet word. ’n Belangrike element in hierdie holistiese benadering is rotasieprogramme, wat dekgewasse insluit,” voeg dr Niederwieser by.

Daar is ook terugvoer gegee oor die resultate van kultivar-evaluasies, spesifiek vanaf KZN.

“Kultivar-evaluasie is ’n belangrike aspek van ons navorsing wat landswyd plaasvind. Ons evalueer deurgaans nuwe én gevestigde kultivars ten opsigte van opbrengs en kwaliteit. Met die verloop van tyd word hierdie inligting bymekaar gebring sodat produsente kan sien watter kultivars dalk al heelwat in ’n spesifieke seisoen geplant is, en dit dus strategies raadsaam sou wees om eerder ’n ander kultivar te gebruik.

“Eweneens is hierdie inligting waardevol vir invoerders van plantmateriaal om objektiewe en geloofwaardige inligting te bekom in terme van watter kultivars gewens sou wees om in te voer,” sê dr Niederwieser. – Izak Hofmeyr, AgriOrbit