Jong afslaers wys hul staal in Kanada

2189

Twee afslaer-broers het onlangs die Suid-Afrikaanse vlag hoog laat wapper by die jaarlikse Calgary Stampede in Kanada. Steven Mathews, Suid-Afrika en Veeplaas/Stockfarm se 2016 Toyota SA Nasionale Jong Afslaer van die Jaar, het dié jaarlikse elite-geleentheid op die Kanadese veekalender saam met sy broer, Gavin, bygewoon. Gavin was die 2017 Toyota SA Nasionale Jong Afslaer van die Jaar.

Deel van hul prys as plaaslike kampioene, was om vanjaar na Calgary in Kanada te reis vir die jaarlikse Calgary Stampede. Steven het verlede week tydens die Calgary Stampede se International Livestock Auctioneering Competition, sy staal gewys en Suid-Afrika op luisterryke wyse verteenwoordig.

Kyk na videos van die deelnemers in aksie tydens Calgary Stampede.

Hulle het teen 36 van Kanada, Amerika en Australia se beste jong afslaers deelgeneem. Hoewel hulle nie vir die top-tien gekwalifiseer het nie, was dit steeds ’n verrykende ervaring. Volgens Gavin is die styl van die Kanadese en Amerikaanse afslaers baie anders as die Suid Afrikaanse styl. Die Australiërs se styl is baie nader aan dié van plaaslike afslaers.

Die deelnemers het die geleentheid gehad om deel te wees van ’n eksklusiewe toer van die bedrywighede agter die skerms van die Calgary Stampede. Die afslaer-broers het ook die Calgary Stampede-plaas en een van die grootste voerkrale in Kanada, Chinhook Ranch, besoek. Die kontakte wat Gavin en Steven op dié besoek opgebou het, sal beslis in die toekoms die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie verder bevorder.

Hou AgriOrbit dop vir ’n volledige verslag van Steven en Gavin se besoek. Die hoogtepunt van die 2018 Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie is in September tydens ALFA, wanneer streekwenners vanoor die land bymekaar sal kom vir die finale rondte. Vir meer inligting, besoek www.alfaexpo.com. – Ursula Human, Veeplaas