Plaas Media stel sy nuwe aanlyn televisieprogram, Plaas TV, bekend

699

Plaas Media stel met trots die nuwe kalf in sy stal bekend.

Lees dit in Engels.

Plaas TV is ’n aanlyn televisieprogram wat op weeksdae uitgesaai word met die doel om in te lig, op te voed en lewens te verryk. Die program word saamgestel uit ’n gesonde mengsel van nuus, markte, onderhoude, weer, geleenthede en soveel meer.

Die program word op weeksdae uitgesaai met nuwe episodes elke Maandag, Woensdag en Vrydag om 08:00 op Plaas TV se YouTube-kanaal. Programme is op deurlopend beskikbaar en kan enige tyd nadat ’n nuwe program opgelaai is, gekyk word.

Tradisionele TV met ’n nuwe baadjie

“Ons is vol vertroue dat Plaas TV sal voldoen aan die vereistes wat kykers aan tradisionele televisie stel. Plaas TV bied egter die gerief wat deur aanlynplatforms moontlik gemaak word. Dit is waarom ons besluit het om te hou by ’n tradisionele programformaat wat nuus, weer en ekonomiese aanduiders insluit, tesame met ’n verskeidenheid insiggewende onderhoude en video’s,” sê Lynette Louw, HUB van Plaas Media.

“Daar is baie voordele verbonde aan aanlyn-uitsaai. Een hiervan is dat daar nie ’n beperking op die lengte van ’n program is nie, hoewel ons besluit het op ’n korter programformaat wat meer sinvol sal wees vir die aanlynkyker. ’n Verdere voordeel is die feit dat kykers na die program kan kyk wanneer dit hulle pas – sodra ’n program opgelaai is, bly dit vir die afsienbare toekoms daar.”

Aanlyn-uitsaai bied ook groter beheer oor die uitsaai-omgewing – dit is aansienlik meer buigbaar en daar is minder tydsbeperkings en reëls. Een van die grootste voordele is egter die koste wat verband hou met so ’n program.

“Uit ’n produksie-oogpunt is daar uiteraard heelwat finansiële voordele, maar die grootste voordeel is sekerlik vir ons adverteerders. Die nuwe formaat laat ons toe om advertensiespasie teen ’n fraksie van die tradisionele uitsaaitariewe te bied – tot so laag as ’n derde van wat dit normaalweg sou kos om ’n insetsel of advertensie te plaas. Daarmee saam kom ook aansienlik goedkoper produksietariewe indien kliënte daardie diens sou verlang.”

’n Vars benadering

Volgens Louw is dit ’n relatiewe jong produksiespan wat gaan sorg dat die program drie keer per week op rekenaars en selfone beskikbaar is. “Plaas Productions is ’n jong afdeling in die Plaas Media-stal, maar ek glo dat dit juis ’n voordeel bied. Dit is ’n span met ’n aanlyn-ingesteldheid en hulle dink in moderne terme. Ons het ook ’n ateljee wat relatief buigbaar is wat opnames betref. Ons het egter die afgelope ruk vinnig gewoond geraak aan hoeveel vermag kan word met bestaande tegnologie tot ons beskikking en daarom hoef alles nie in die ateljee opgeneem te word nie.

“ ’n Groot deel van ons landbougehoor is redelik konserwatief ingestel en ondersteun steeds meer tradisionele vorme van media. Ons respekteer dit geweldig en dit was een van die beweegredes agter die meer tradisionele programformaat. Ons het ook ’n uitsaaistaatmaker in ons midde. Lise Roberts is al vir jare een van ons RSG Landbou-aanbieders en sy bring aansienlike landboukennis en onderhoudvaardighede na Plaas TV. Sy sal die program saam met nuweling, Deidré Louw, aanbied.”

Inhoud sal altyd koning kraai

“Goeie inhoud was nog altyd Plaas Media se fokus. Ons is nie voorstanders van sensasionalisme nie en al ons inhoud is gegrond op tegniese korrektheid met gaste wat werklik kenners op hul gebied is,” beklemtoon Louw. “Ons sal aspekte regoor die landbouspektrum aanspreek – van produksiemetodes en winsgewende boerdery, tot wetlike en wetgewende sake, die jongste tegnologie, goeie landboupraktyke, en die landbouwaardeketting en -ekonomie.”

Hierdie uitgangspunt word weerspieël in die programbydraers wat bekende gesigte soos Dr John Purchase van Agbiz, regskenners soos Allison Wright van VDT Prokureurs en Christo Bester van die LWO Werkgewersorganisasie, en bedryfskenners soos Adri Kitshoff-Botha van Wildbedryf SA en Jaco Oosthuizen van RSA Groep, insluit. Verskeie landbou-organisasies en hulle woordvoerders sal ook in die program te siene wees.

Daar is ook planne vir ’n aantal reekse wat sal fokus op opvoedkundige en praktiese landbou-aspekte.

Teken in en praat saam

Die eerste uitsending van Plaas TV sal om 08:00 op 1 Junie 2020 op die Plaas TV YouTube-kanaal verskyn. Kykers kan gratis inteken.

“Ons verwelkom natuurlik enige insette en voorstelle deur ons kykers en vanaf ons bedryfsvennote. Plaas Media en sy produkte kon deur die jare groei en sukses bereik op grond van ons samewerking en strategiese vennootskappe met vooraanstaande organisasies soos die Veevoervervaardigersvereniging van Suid-Afrika (AFMA), die Proteïennavorsingstigting (PRF), SA Stamboek, talle telersverenigings en ander rolspelers in die landbou. Ek glo dat hierdie verhoudings Plaas TV na ongekende hoogtes sal neem.” – Persverklaring, Plaas Media

Kontak Lynette Louw by lynette@plaasmedia.co.za of skakel 084 580 5120 vir navrae.