Suurlemoene kan op talle maniere in kos en nagereg gebruik word. Maar het jy geweet dit kan op baie ander maniere ook van waarde wees? Die Noordwes Universiteit het ’n lys van boererate saamgestel en in hierdie week se Plaaskos som ons die top boererate wat van suurlemoen gebruik maak, op. Om die volle lys boererate te besigtig, klik hier.

Lees ook meer oor die verwerking van suurlemoene in ons weeklikse agri-verwerking artikel.

Bak en brou

  • Voeg ’n klein bietjie suurlemoensap by jellie om dit vinniger te laat stol.
  • Wanneer jy bak en suiker en botter moet verroom, sal dit gouer meng as ’n bietjie suurlemoensap bygevoeg word.
  • Voeg 2ml suurlemoensap by room om dit gouer styf te klop.
  • As kerrie te sterk is, voeg ’n bietjie suurlemoensap by.
  • Om meer sap uit ’n suurlemoen te kry, laat dit vir ’n rukkie in warm water lê voor jy dit uitdruk.

In en om die huis

  • Meng suurlemoen en koeksoda om ’n natuurlike bleik- en ontsmettingsmiddel te maak.
  • Raak ontslae van sterk en onaangename kosreuke wat aan ’n kerfplank kleef deur dit met ’n halwe suurlemoen te vryf en dan af te spoel.
  • Vryf koper blink met ’n sout en suurlemoenmengsel. Dit werk ook goed om messe blink te vryf.
  • Om van slakke in jou tuin ontslae te raak, sit suurlemoenskille op plekke waar die slakke is – hulle hou nie van die reuk nie. Dit werk ook vir miere binne of buite die huis.
  • Om jou strykyster se boom skoon te maak, vryf ’n halwe suurlemoen gedoop in sout daaroor.

Mode en skoonhied

  • Suurlemoen gemeng met koeksoda maak gevlekte tande mooi wit.
  • Skep natuurlike ligstrepe in blonde hare deur ’n sproeibottel met 2/3 koppie vodka en 1/3 koppie suurlemoensap te vul. Sproei aan klam hare, sit ’n rukkie in die son en spoel eers die aand af.
  • Suurlemoensap sal groentevlekke van hande verwyder. Dit werk ook vir nikotienvlekke.
  • Vryf jou silwer juwele met ’n halwe suurlemoen en spoel af.
  • Vir aknee en puisies, smeer vars suurlemoensap aan. Spons gesig gereeld af met verdunde suurlemoensap.