Ons oumas en oumagrootjies het amper alles self gemaak in die plaaskombuis. Seep was een van die items wat hulle gemaak het. Seep is meestal uit dierevet gemaak en is ’n slim manier om alle dele van ’n geslagte dier te benut. Vandag se generasie maak nou weer ’n kopskuif na volhoubaarheid en soek gereeld maniere om nie kos en ander hulpbronne te vermors nie.

Hoewel ’n mens nie aan hierdie week se Plaaskos-resep kan smul nie, kan dit dalk iemand inspireer om weer soos ons voorvaders seep uit vet te begin maak en elke deel van die dier te benut. Hier onder is ’n resep vir mieliemeelseep uit ’n ou resepteboek wat nog ponde gebruik. Kliek ook hier om meer inligting te kry oor hoe om vet te verwerk vir gebruik in seep, asook ander handige wenke vir seepmaak.

Mieliemeelseep

Die mieliemeel in die seep skuur al die ou velle af en die bietjie terpentyn maak ’n mens silwerskoon na ’n lang dag van buite werk.

Bestanddele

7 pond gesmelte vet

2 pond mieliemeel

1 pond seepsoda

5 glase water

½ koppie terpentyn

Metode

Los die seepsoda in water op en laat afkoel tot dit lou is. Die maklikste is om die mengsel in ’n bak koue water te laat staan. Die vet word net gesmelt en moet sterk lou wees en nie warm nie. Meng dan die terpentyn daarin. Gooi die seepsoda in ’n dun straaltjie daarin terwyl dit geroer word. Sif die meel onmiddellik daarna met die hand of deur ’n fyn sif. Roer die mengsel tot dit soos dik mieliemeelpap lyk. Sit dit nou in vorms. Maak toe met iets warms sodat dit kan afkoel en styf word. Die seep word gou koud en hard – dit moet binne ses ure uitgesny word, anders word dit te hard. – Ursula Human, Plaaskos

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here