Plaaskos: Romerige biltongsop

889

Ankie Stroebel van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) het onlangs op Grootplaas meer vertel oor die biltongmaakproses. Sy het ook verskeie biltongresepte met ons gedeel. Probeer hierdie biltongsopresep dié koue naweek.

Bestanddele:

80g botter
1 eetlepel koljanderkorrels, fyn gestamp
1 eetlepel swartpeperkorrels, fyn gestamp
1 stewige knypie sout
1 teelepel neutmuskaat, fyngemaal
0,5 tot 1 koppie meel
2l melk
500g nat, fyngekerfde biltong
200g bloukaas, gerasper
400g Cheddarkaas, gerasper
250ml vars room
50ml port

Metode:

Smelt die botter in ’n swaarboomkastrol. Roer die koljander, peper, sout en neutmuskaat in. Gooi nou die meel by tot ’n stywe bol deeg gevorm het. Roer nou die melk in, net ’n bietjie op ’n slag, soos wat jy witsous sal maak. As jy in die begin te veel melk op ’n slag ingooi, gaan jy meelklonte in jou sop hê.

 

Wanneer die deeg ’n slap, loperige sous geword het, gooi die biltong in, maar hou ’n klein bietjie oor vir garnering. Roer vir so 30 sekondes. Gooi nou die bloukaas in, maar hou weer ’n bietjie uit vir garnering. Wanneer die bloukaas gesmelt is, gooi die Cheddarkaas in en roer tot gesmelt. Die sop is nou gereed en moenie baie langer op die stoof bly nie.

Net voor jy opskep, gooi die room en port in en gee een vinnige roer. Skep nou in sopbakkies en garneer met oorblywende biltong en bloukaas. Jy kan ook ’n bietjie pietersielie bysit en as jy dalk nog room het, gooi ’n straaltjie in die rondte oor die sop. Voila – bedien en wag om te sien hoe die mense woordeloos is oor jou sop!