Op 20 Mei het ons Wêreld Byedag gevier. Bye is belangrik vir die landboubedryf en voorsien ‘n derde van die wêreld se voedsel deur bestuiwing. Die heuningbedryf is ook ‘n belangrike bedryf in meeste lande. Lorraine Swanepoel van Cocovanilla Foods het van haar gunsteling heuningresepte met Plaaskos gedeel.
Heuning-botterkaramelsous
Bestandele
250g ongesoute botter, in blokkies gesny
2,5ml sout
1 koppie (220g) strooisuiker
150g heuning
5ml vanielje-ekstrak
125ml volroommelk
Metode
1. Neem ‘n medium-grootte kastrol en voeg die botter, sout, suiker, heuning en vanielje saam. Verhit oor medium lae hitte en roer totdat die botter heeltemal gesmelt het. Laat die mengsel vir 15-20 minute kook op hoë hitte tot dit begin verdik. Hou jou oog op die mengsel en roer aanhoudend. Gebrande sous is nooit lekker nie.
2. Verwyder die kastrol van die hitte en voeg die melk by. Roer deeglik tot alles mooi gemeng is. Laat effens afkoel en bedien oor roomys of jou gunsteling nagereg. Jy kan die mengsel bottel ook en tot twee weke in jou yskas hou maar ek twyfel of dit nodig gaan wees…ek dink dit sal in een maaltyd op wees!
Indien jy dit wel stoor in jou yskas, moet jy dit liggies verhit in jou mikrogolf.
Heuningkoek
Bestandele
90g heuning
440g strooisuiker
90ml water
15ml koeksoda (gesit)
1. Voer ‘n groot bakplaat uit met bakpapier (nie waspapier nie). Hou eenkant.
2. Gooi die heuning, suiker en water in ‘n medium-grootte kastrol. Verhit oor medium hitte. Roer nou en dan totdat die suiker heeltemal opgelos het.
3. Bring die mengsel nou tot kookpunt. Moenie roer nie! Laat kook vir 10 minute of tot 152 °C op jou suiker-termometer.
4. Werk vinnig maar wees versigtig! Neem jou draadklitser en roer die koeksoda vinnig in. Gooi uit op die bakplaat en laat dit eenkant om heeltemal af te koel.
5. Breek die heuningkoek op in stukke. Jy kan die stukke doop in gesmelte sjokolade – wit sjokolade laat my altyd dink aan ‘n bekende heuningkoek-sjokolade wat nie meer te koop is nie.
Vir meer van Lorraine Swanepoel se resepte besoek www.cocovanillafoods.co.za of volg haar op Facebook (@cocovanillafoods) en Instagram @cocovanillafoods of @lorraineswanepoelkokkedoor. – Ursula Human, Plaaskos