Die Plaaskos-span het onlangs ’n unieke opdrag gekry waarvolgens hulle ’n kitsch Suid-Afrikaanse gunsteling moes bedien en dan ook ’n moderne weergawe daarvan. Een van die disse wat herskep is, is kamma-kreef. Baie mense sal kamma-kreef onthou as die dis wat hulle ma gemaak het as sy gaste wou beïndruk. Hulle het die resep uit Knuppeldik aan Koningskos gebruik en dit op die klassieke manier op blaarslaai in ’n skulpkelkie bedien. Vind dié resep aanlyn by www.liplekker.co.za deur hier te klik.

Die Plaaskos-span se nuwe weergawe van dié resep was ’n gedekonstrueerde avokado ritz. Die garnale is darem al nader aan kreef en dit is nou hoogmode om disse op te deel in aparte elemente. Die pan gebraaide garnale word met geroosterde snye baguette, avokado-puree en geurige mayonnaise bedien. Kry dié lekker resep hier onder.

Gedekonstrueerde avokado ritz

Bedien 4- 6 mense.

Bestanddele

 

Garnale en broodjies

400g garnale

Sap van 2 suurlemoene

1 eetlepel paprika

1 baguette, in snye gesny

Olyfolie

Microgreens

Radyse, in dun snytjies gesny

 

Avokado-puree

2 ryp avokado’s

250ml suurroom

Halwe suurlemoen se sap

Sout en peper na smaak

 

Geurige mayonnaise

1 koppie mayonnaise

¼ koppie tamatiesous

1 teelepel gerookte Chipotle Tabasco (of volgens smaak)

Sap van ’n halwe suurlemoen

1 knippie elk sout, peper en rooipeper

1 teelepel Worcester-sous

Metode

Garnale en broodjies

Meng suurlemoen en paprika. Laat die garnale ’n rukkie in die suurlemoen- en paprikamengsel lê. Braai dan in ‘n pot of pan oor ’n matige hitte tot gaar. Smeer broodjies met olyfolie en rooster vinnig op die rooster.

Avokado-puree

Voeg al die bestanddele in ’n voedselverwerker en puree tot dit ’n lekker smeerbare tekstuur het.

Geurige mayonnaise

Meng al die bestanddele bymekaar.

Hoe om dit te bedien

Die idee agter ’n gedekonstrueerde dis is om elke element van die dis apart te beklemtoon. Smeer van die avokado-puree op ’n bord en plaas 3 tot 4 garnale daarop. Plaas die geroosterde broodjie langs die garnale met ’n smeersel van die geurige mayonnaise langs dit. Garneer die bord met radyse en Microgreens vir kleur.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here