Kameras wat toegerus is om verdagte nommerplate te identifiseer, is op strategiese plekke in die gebied opgerig.

Volgehoue paraatheid, betrokkenheid in die gemeenskap, benutting van moderne tegnologie, ’n wapen aan die sy of ’n opgeleide hond om jou te beskerm – dit is van die hulpmiddels wat produsente inspan om ’n omgewing te skep waarin hulle kan boer.

Plaasaanvallers is deesdae meestal goed opgelei, tref deeglike voorbereiding, tree volgens ’n deurdagte plan op en besluit nie op die ingewing van die oomblik om aan te val nie. Verspieders hou die plaas deeglik dop en kyk wat die roetine van die plaasmense is.

Lees hier meer oor landelike misdaadtendense.

Dit is jammer, maar ongelukkig waar, dat produsente self ’n ál groter bydrae moet lewer om hul veiligheid te probeer verseker. Dit moet egter binne die raamwerk van wetgewing gebeur.

’n Bekende hondemeester voeg by dat ’n goed opgeleide hond ’n baie goeie alternatief vir ’n vuurwapen kan wees vir diegene wat ongemaklik met ’n wapen is. ’n Hond sowel as ’n eienaar wat nie goed opgelei is nie, gaan egter nie werklik hond haaraf maak teen plaasaanvallers en ander misdadigers nie.

Ken jou bure

Neil van Zyl, voorsitter van die Tambotie-Overyssel-ondersteuningsgroep (TOOG), sê sy pa, Gawie, het ’n paar dekades gelede ’n ondersteuningsgroep in dié gebied tussen Vaalwater en Ellisras gestig, sodat produsente hul bure beter kon leer ken en mekaar ondersteun. Vandag is daar sowat 40 parate lede in die groep wat goed toegerus is om hul veiligheid te bestuur.

Mike Embleton (links) en Neil van Zyl by ’n radiostel in die veilige gebied van die huis. Neil hou ’n handradio vas wat hy altyd saamneem as hy uit die huis uit gaan.

Een van die lede, Mike Embleton, is ’n oud-polisieman wat goed ingelig is ten opsigte van die gebruik van radio’s en hoe daar opgetree moet word om die gebied te beveilig.

Hoewel betreding, en veral wilddiefstal, ’n wesenlike probleem is, was Limpopo en hul gebied bevoorreg dat daar nog nie baie plaasaanvalle was nie. ’n Groot gedeelte van die gebied is baie bergagtig, met betreklike swak paaie wat dit vir die boere en booswigte moeilik maak.

Omdat kommunikasie die ruggraat van die stelsel is, moes hulle herleiers vir hul radiostelsel kies wat nie noodwendig wye opvangs bied nie, maar eerder in die valleie en klowe kon reik, sodat dit die hele gemeenskap oor sowat 5 000km2 kan bedien.

Om die gebied doeltreffend te kan beveilig, moet die mense hul bure ken – wat hul bewegings is, wat die uitleg en omstandighede op die plaas en opstal is, hoeveel werkmense in diens is, en so meer. Die groepslede is daarop ingestel om op die paaie en plase vir vreemde spore op te let. Mike sê as hy ’n vreemdeling langs die pad kry, laai hy hom op en vra hom uit, want dit is een manier om inligting te kry oor wat in die wyer omgewing aangaan.

Kamera- en radiostelsels

Beveiliging kos geld en die groep probeer om hul veiligheidstelsels voortdurend op te skerp soos wat hulle dit kan bekostig. Die jongste toevoeging om die gebied te help beskerm is kameras wat op strategiese plekke langs toegangspaaie opgerig is. Die kameras, wat met sonkrag werk, kan nommerplate identifiseer en is met ’n dienskamer verbind wat 24 uur beman word, toegang het tot die amptelike nommerplaat-identifiseringstelsel en dadelik waarsku as daar verdagte voertuie die gebied inkom.

Al die lede word soggens en saans oor die radio geroep, en as daar nie van iemand verslag gedoen kan word nie, stel hulle dadelik ondersoek in. In geval van enige onrus of voorvalle in die gebied, is daar lede wat dadelik na die herleitorings gaan, dit beveilig en beskerm totdat die krisis verby is.

Op die plaas is die eienaars en hul werksmense voortdurend op die uitkyk vir vreemde spore. As sulke spore opgemerk word, word hulp onmiddellik ontbied. Omdat ’n deel van die gebied baie bergagtig is, kan boosdoeners kilometers ver net op klippe trap, wat spoorsny bemoeilik. Daar word beoog om mettertyd honde aan te skaf wat sulke spore kan navolg.

Beveiliging van opstalle

Opstalle word beveilig met sterk diefwering, alarmstelsels binne die huis sowel as stelsels wat buite op beweging reageer, ligte wat die werf verlig en ’n elektriese heining rondom die opstal met ’n afstandbeheerbare hek. Die ligte moet verkieslik só geplaas word dat dit weg van die huis af skyn, sodat dit die booswigte verblind en hulle vanuit die huis sigbaar maak. Daar moet so min skuilplek as moontlik op die werf wees.

In die huis moet ’n versamelpunt geskep word wat spesiaal beveilig is. Sodra onraad vermoed word, moet die hele gesin na dié area beweeg en die radio behoort ook daar geïnstalleer te wees. Honde moet ook in die huis gehou word sodat hulle nie geskiet of vergiftig kan word nie. Niemand behoort in ’n noodgeval buite toe te gaan nie.

As ’n mens by die plaas se ingang aankom en vreemde spore daar gewaar of enigiets opmerk wat verdag is, ry eerder aan en ontbied hulp. Hekke moet met afstandbeheer oopgemaak kan word en as dit nie werk nie, moet daar nie uit die voertuig geklim word nie. Die gebied om die hek moet ook skoon gehou word met so min skuilplek as moontlik.

Moet ook eerder nie ingaan as die werfhonde by die huis nie soos gewoonlik optree of sigbaar is nie. Wees liewer bang Jan as dooie Jan, sê beide Neil en Mike.

In die geval van ’n plaasaanval moet die gesin, wat almal die radio en vuurwapens moet kan hanteer, hulle in die veilige plek in die huis verskans, ’n noodsein uitstuur en wag vir die eerste reaksie-eenheid om beheer oor te neem. Die radio moet nooit onbeman gelaat word nie. Sogenaamde stoppergroepe word geaktiveer om die torings te beveilig en paaie saam met die polisie af te sper. Wees ook versigtig om nie enige forensiese bewysstukke te skuif of vernietig nie.

Neil sê produsente moet voortdurend hul roetine verander en planne beraam om hulle minder kwesbaar te maak en die hele gebied te help beskerm.

Werks- en waghonde

Todd Lutman, bekende honde-opleier van Gundog Training, sê persoonlike beskermings-, patrollie- en spoorsnyhonde wat mense kan uitsnuffel, kan ’n groot rol in plaasveiligheid speel. Die sogenaamde werkshonde met die nodige energie, dryfkrag, selfvertroue en ’n gebalanseerde geaardheid, is hiervoor geskik.

Hy verkies veral die Nederlandse herdershond en Belgiese Malinois, omdat hulle gewoonlik die nodige eienskappe soos ’n kort haarkleed het en ’n mediumgrootte hond is wat jy maklik in die huis kan hou of in ’n voertuig laat saamry.

plaasveiligheid
Todd Lutman en Anneline Pienaar met hul persoonlike beskermingshonde.

Honde tussen agt maande en drie jaar oud kan opgelei word. Die opleiding van ’n persoonlike beskermingshond duur van vier tot ses weke, en die eienaar moet die laaste paar dae van die opleiding meemaak. Mense sien dikwels daarteen op om ’n hond te laat oplei, maar ’n hond en eienaar wat nie geleer is nie of swak afgerig is, beteken nie veel vir beskerming nie.

So ’n opgeleide hond sal sy eienaar of sy gesin met sy lewe beskerm. Todd sê as hy van die huis af weg is, laai hy die hond by die skuifhek af wat toegang tot die werf bied. As daar ’n probleem is, sal die hond voor hy die huis ingaan, al onraad ruik.

As hulle by die huis se deur kom, stuur hy die hond in, wat opgelei is om elke vertrek in die huis te deursoek. As hy iets verdag aantref, sal hy blaf en eers aanval as hy so ’n bevel kry. Sulke honde is veral geskik vir mense wat sku is om ’n vuurwapen te dra. Die hond is sodanig opgelei dat ’n mens hom oral kan saamneem. Die hond sal net aanval indien sy eienaar bedreig word.

Patrollie- en speurhonde

Patrolliehonde word sonder enige sosialisering met mense grootgemaak. Sulke opgeleide honde werk die beste saam met ’n hanteerder, maar kan ook geleer word om alleen te werk. ’n Mens kan hulle leer om geen kos van ’n vreemdeling of buite sy hok te vreet nie, wat dit moeiliker maak om hulle te vergiftig.

Die honde sal enigeen, behalwe sy hanteerder, aanval. Daarom moet hulle bedags in hul hokke gehou word en snags in hul werksgebied losgelaat word. Nadat die hond opgelei is, word hy stelselmatig aan sy eienaar of hanteerder bekendgestel.

Die opleiding van honde wat mense se spore kan volg, duur tot sowat 16 weke, en die eienaar behoort die hele tyd, of minstens die laaste drie weke van die opleiding, mee te maak. Sulke honde kan net die verdagte se spoor of ’n klein stukkie materiaal wat agtergebly het ruik en sal die spoor dan volg tot waar die persoon is of waar hy in ’n voertuig geklim het.

Om die honde op te lei is ’n intensiewe, duur proses en opgeleide honde kos van R35 000 vir ’n jong hond, tot R85 000 vir ’n hond wat ten volle opgelei is en waarmee ’n mens oorlog toe kan gaan. Todd sê ’n goed opgeleide hond kan beslis mense se lewens red en is in baie gevalle noodsaaklik vir veiligheid. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak
Neil van Zyl by 082 824 8927 of cornelisj.vanzyl@gmail.com, en
Todd Lutman by 082 419 7486 of todd@k9tracking.co.za.