Omdat Lukas ook ’n toetssentrum vir bulle bedryf, kan hy sulke voortreflike bulle wat ná die toets deur die keurders van die telersgenootskap afgekeur word, koop en net verder in die voerkraal afrond.

As ’n integrale deel van ’n vleisbeesboerdery, is voerkrale op plase gewoonlik daarop gemik om waarde tot die produkte wat geproduseer word, toe te voeg. Lae speenkalf- en mieliepryse is twee faktore wat produsente dikwels tot dié uitweg noop, om die negatiewe finansiële impak van hierdie lae pryse op die winsgewendheid van hul ondernemings te probeer teenwerk.

Lukas Eksteen bestuur die beesvertakking van Bufland Agri, wat in verskeie vertakkings van die rooivleiswaardeketting bedrywig is. Hy sê dit is vandag baie moeilik om so ’n voerkraal te bedryf as die produsent nie self van die insette volhoubaar kan verskaf nie. As alles, van die kalwers tot voer en medisyne, gekoop moet word, word die marges só fyn gesny dat dit in baie gevalle in ’n waagstuk ontaard.

voerkrale
Lukas en sy vrou, Leandri, sy regterhand met die bestuur van Bufland Agri se beesvertakking.

Nadat hy hom in 2011 by Bufland aangesluit het om die beesboerdery te bestuur, het hulle in 2015 besluit om ’n voerkraal te begin waarin sowat 2 400 beeste per jaar in drie siklusse van 800 beeste afgerond kon word.

’n Studie van voerkraalwins

Dit was gou vir hom duidelik dat hy meer kennis nodig het vir dié onderneming. Daarom het hy vir sy meestersgraad, die belangrikste faktore wat die winsgewendheid van ’n voerkraal beïnvloed, nagevors.

Hiervoor het hy die voerprys (hoofsaaklik mielieprys), speenkalfprys, groei (gemiddelde daaglikse toename in gewig, of GDT), voeromsetverhouding (hoeveelheid voer nodig om een kilogram vleis te produseer, of VOV) en die slagprys in ag geneem. Hy het ook geslag as ’n faktor bygevoeg, omdat bulkalwers normaalweg beter as verse groei.

Sy gevolgtrekking was dat groei (GDT) sonder om ook voerdoeltreffendheid te meet, nie noodwendig welslae verseker nie. Dit het gelei tot die oprigting van ’n bultoetsstasie, waar bulle van die bekende Bufland Bonsmarastoetery, asook bulle van telers van al die verskillende vleisbeesrasse in Limpopo, se groei en voerdoeltreffendheid gemeet kan word.

In sy navorsing het hy verder tot die slotsom gekom dat die voerkraaleienaar net twee faktore nie kan beheer nie, naamlik die beesprys (speenkalf- en karkasprys) en die weer.

Beheerbare faktore wat winsgewendheid beïnvloed, kan as volg bestuur word:
1. Beheer voerinname soos die weerstoestande verander.
2. Hou krale skoon om energieverlies te verminder en gesondheid te bevorder.
3. Stel skoon drinkwater beskikbaar.
4. Sny ruvoer in rantsoene die regte lengte om rumensteurnisse te voorkom.
5. Beskuttings vir diere moet goed geventileer wees.
6. Té lang voertydperke is selde winsgewend.
7. Pas diere aan om die aanvangsrantsoen optimaal te kan benut.
8. Koop die regte en gesonde diere.
9. Bestuur en beplan die aanwending van groeibevorderaars reg.
10. Belê net in projekte wat ’n positiewe opbrengs op kapitaal kan gee.

Aankoop van kalwers en bulle vir voerkrale

Om self al die kalwers vir die boerdery te lewer, sou hulle 2 700 koeie moes hê, wat nie prakties haalbaar was nie. Hulle het nogtans ekstra grond verkry en ’n kommersiële kudde begin, sodat hulle in sowat 20% van hul behoefte kon voorsien, om só die risiko van periodieke tekorte aan speenkalwers te verlig.

Diere in die voerkraal moet voer doeltreffend kan benut. Dié genetiese eienskap stel hulle in staat om meer te groei met minder voer.

Aanvanklik het hulle sowat 60% van die kalwers wat nodig was, op veilings en 20% privaat gekoop, maar namate telers wat kalwers volgens hul vereistes lewer, geïdentifiseer is, het die verhouding na 60% privaat en 20% op veilings verander.

Afgesien van die kalwers wat hulle self produseer, gaan baie van die bulle van die Bufland-toetssentrum, wat deur die telersgenootskap se keurders weens strukturele foute afgekeur word, ook deur die voerkraal. Hy koop dié bulle, wat klaar 112 dae in die groeitoets was, teen die heersende markprys en rond hulle dan ongeveer 28 dae lank verder af vir slagting.

Die voordeel is dat die bulle nie na die voerkraal aangery hoef te word nie, dat hulle klaar by ’n voerrantsoen aangepas het, en dat hul voerdoeltreffendheid normaalweg goed of uitstekend is. Omdat telers die bulle na die toets aanry, laai hulle dikwels van hul ander kalwers om ’n vrag vol te maak en lewer dit aan die voerkraal.

Waardevolle data uit toetse

Daarby is die gegewens wat deur gereelde weging in die toetssentrum van meer as 1 000 kalwers versamel is, van groot waarde vir die voerkraal. Volgens die data groei die kalwers tot op die vierde week teen gemiddeld 0,6kg/dag. In die volgende twee weke groei hulle teen gemiddeld 2,2kg/dag, van week 7 tot 12 teen gemiddeld 1,9kg/dag en eindig op ’n gemiddelde groei van 1,8kg/dag.

Sy gegewens wys ook dat té ligte speenkalwers nie baie doeltreffend in die voerkraal vaar nie. ’n Kalf vreet normaalweg sowat 3% van sy lewende gewig. As ’n kalf dus 200kg weeg, kan hy eintlik net 6kg (droëmateriaal) voer per dag vreet en dan kan hy waarskynlik net 1kg/dag groei.

Een van die grootste verliese in ’n voerkraal is ’n kalf wat vrek. Kalwers vorm sowat 60% van die koste, voer sowat 20% en infrastruktuur nog 20%. Sy ondervinding is dat die ligter kalwers moeiliker aanpas, makliker siek word en vrek.

’n Kalf wat byvoorbeeld 230kg weeg wanneer hy die voerkraal inkom, verdubbel sy gewig in 120 dae en laai gewoonlik uit teen 460kg. Sy gemiddelde gewig is 345kg vir die voertydperk, wat beteken dat hy gemiddeld 10,8kg voer per dag kan vreet, wat voldoende is om ’n groei van 1,8kg/dag te handhaaf.

Winsgewende somme

Lukas sê die koste om die lewende gewig van die kalf met 1kg te laat toeneem, is sowat R18 tot R20. Vir ’n gewigstoename van 230kg lewende gewig kos dit dus bykans R4 600. As ’n mens aanvaar die uitslagpersentasie is 50%, kos dit tussen R36 en R40 om 1kg karkasgewig by te sit.

Om te kan wins maak, moet die genetiese eienskappe van beeste benut en, waar moontlik, koste bespaar word. Beter groei, voerdoeltreffendheid en uitslagpersentasie sal die syfers beter laat klop.

Ruvoer moet naby wees. Lukas sê hulle produseer hul eie gras, wat hulle sny en baal om as ruvoer te gebruik, asook mieliekuilvoer, wat in die rantsoen ingemeng word. Die kuilvoer maak hulle wanneer die pitte aan die koppe al stewig begin raak om só minder mielies te koop om in die rantsoen in te meng. Hoe duurder mielies raak, hoe groter is die kuilvoerkomponent in die rantsoen.

Verder belê hulle daarin om beeste te teel wat goed groei en minder voer gebruik om dié groei te verwesenlik. Gegewe dat hulle al oor ’n betreklike lang tyd baie streng daarvoor selekteer, verhoog dit die kans dat hul voerkraal ’n beter wins gaan maak.

Met 100 beeste in een kraal, kan die inkomste R60 000 meer wees as die beeste teen 1,8kg/dag groei teenoor dié wat net 1,5kg/dag groei. Hy kan daarom sowat R3/kg meer vir sulke kalwers betaal wanneer hy hulle koop, sê Lukas.

Die besigheid van voerkrale

Suid-Afrika se voerkraalbedryf verskil van ander lande in die wêreld. Plaaslike voerkrale het beter beheer oor die waardeketting en ’n minder stremmende bemarkingstelsel. Veral in Amerika en Australië maak voerkrale beeste op groot skaal op ’n kontrakgrondslag markgereed. Die diere bly dan die produsent se eiendom – hy betaal vir die voer en medikasie en die voerkraal hef slegs ’n staanfooi.

Dit is so goed asof die produsent sy eie voerkraal het, sonder dat hy die infrastruktuur hoef te skep. Dit kan voordelig vir die produsent sowel as vir die voerkraal wees. Dit lyk vir hom na ’n aantreklike opsie wat ook in Suid-Afrika sal kan werk.
– Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Lukas Eksteen
by 082 458 7787 of lukas@bufland.co.za.