Koringproduksie in Suid-Afrika ly onder die ekonomiese werklikhede wat die bedryf in die gesig staar. Broodnodige planne is beraam om koring weer ʼn mededingende gewas te maak om sy plek as stapelvoedsel vol te staan en voedselsekerheid vir die land en sy mense te verstewig.

Alternatiewe gewasse wat hoër opbrengste lewer en groter winste realiseer, het koring as wisselbougewas veral in die Vrystaatse droëlandgebiede uitgedruk. In die Wes-Kaap is alternatiewe gewasse vir koring skraps en kan die koring deur permanente gewasse vervang word wat tot ʼn sosiale ramp kan lei.

Aansporingsmaatreëls vir saadmaatskappye om kultivars wat hoër opbrengste lewer sonder om die gehalte van koring vir die maal- en bakkersbedryf beduidend te benadeel, en ʼn verandering in die graderingstelsel, is van die planne wat dié ramp kan voorkom.

Op die grafiek word die oppervlakte onder koring en die produksie uitgebeeld.

ʼn Statutêre heffing is ingestel om geld te voorsien vir navorsing en tegnologie-ontwikkeling vir oop bestuifde gewasse en om saadkwekers aan te moedig en te vergoed om van die nuutste teelmateriaal ook vir Suid-Afrikaanse boere beskikbaar te maak. Die heffing geld al vir koring en gars.

Van die middel 1970’s tot 1980’s het SA se koringboere soms soveel koring geproduseer dat sowat 20% van die oes uitgevoer kon word. Dié koring was van baie goeie gehalte en het Suid-Afrika minder afhanklik van die uitvoermark gemaak.

Alternatiewe gewasse

Dirk Strydom, bestuurder: graan en bemarking, Corné Louw en Luan van der Walt, ekonome, al drie van Graan SA, sê bedryfsleiers in die hele waardeketting het dié goeie eienskappe van proteïen-inhoud en -gehalte so hoog aangeslaan dat net kultivars wat daaraan voldoen het, vir verbouing goedgekeur is en die opbrengspotensiaal van kultivars agterweë gebly het. Intussen het alternatiewe gewasse met ʼn hoë opbrengs en winspotensiaal op die mark gekom en koring stelselmatig op baie plase uitgedruk.

Corné Louw, Dirk Strydom en Luan van der Walt van Graan SA.

Daarby is dit vir boere moontlik om koringsaad wettig uit hul oes terug te hou en weer te plant sonder om elke jaar saad te koop. Dit maak planttelers en saadmaatskappye traag om in die ontwikkeling van nuwe kultivars te belê, want dit kos miljoene rande om ʼn nuwe kultivar te ontwikkel en geregistreer te kry.

Sedertdien het die produksie van koring met bykans die helfte gedaal terwyl die verbruik omtrent verdubbel het, wat dit noodsaak om sowat die helfte van die binnelandse koringbehoefte in te voer. Daar is weliswaar baie goeie koring op die wêreldmark, maar dit is baie duur en die beskikbaarheid kan baie wissel volgens klimaat- en ekonomiese toestande.

Internasionaal is daar groot oordragvoorrade koring wat pryse onder druk plaas. In baie lande word koringproduksie deur die staat ondersteun wat die boere daar aan die gang hou. Die vraag na vleisprodukte styg en grane wat as veevoer gebruik kan word, geniet voorrang bo gewasse soos koring. Daar is ook ʼn al hoe groter vraag na mielies en groente-olies vir die vervaardiging van biobrandstof wat koring verder op die agtergrond plaas.

Al hoe minder geplant

Volgens ʼn onlangse BFAP-vooruitskatting behoort teen 2024 net sowat 100 000ha koring onder besproeiing verbou te word en in die winter-reënvalgebied behoort die aanplantings op sowat 250 000ha teenoor die huidige sowat 326 000ha in 2017 te stabiliseer. In die Vrystaat is die vooruitsigte van genoeg reën om koring in droëlandstelsels te verbou, nie volhoubaar nie en word geen uitbreiding van koringaanplantings verwag nie.

Dit alles dui daarop dat meer koring ingevoer sal moet word en dat teen 2024 sowat 2,5 miljoen ton van die graan uit die buiteland sal moet kom.

Na aanleiding van dié bevindings is in die vooruitskouing aanbeveel dat die kultivar-vrystellingskriteria verander moet word sodat saadkwekers die geleentheid kan kry om kultivars te teel wat ʼn beter opbrengspotensiaal het, eerder as om net na die gehalte van die koring te kyk.

Daar is bepaal dat ʼn verhoging van 25% in die bestaande opbrengs ʼn beduidende impak op die verbouing van koring sal hê. Daar is voorspel dat dit kan sorg dat 60 000ha meer koring geplant word wat saam met die hoër opbrengs kan sorg dat teen 2024 bykans 2,5 miljoen ton meer koring geproduseer kan word.

Volgens die drie ekonome is daar minstens drie belangrike redes waarom al hoe minder koring geproduseer word: ʼn verandering in die klimaat, ekonomiese redes en alternatiewe gewasse wat beskikbaar geraak het.

Beter potensiaal as koring

Dit lyk asof die reëntyd effens verskuif het, wat die verbouing van tradisionele kultivars veral in die Vrystaat meer riskant maak. Daarby is die koringprys aan invoerpariteit gekoppel (internasionale koringprys) en het nuwe gewasse beskikbaar geraak waarvan die opbrengs- en winspotensiaal beter is as dié van koring.

Die boere gebruik wisselboustelsels om hul risiko’s te beperk en in die proses kyk hulle watter gewasse hulle die doeltreffendste saam kan gebruik om dié doel te bereik. Gewasse soos sojabone het meer gewild as koring geraak, ondanks die feit dat boere vir so ʼn stelsel meer werktuie nodig het.

Voorheen is somergewasse in die somer en koring in die winter verbou sodat net sowat die helfte van die lande op ʼn slag bewerk is. Die meeste alternatiewe gewasse wat nou verbou word, word ook in die somer geplant en al die lande moet dan op een slag bewerk word.

Koring word weliswaar nog in die Vrystaat en Noord-Kaap onder besproeiing verbou, maar die laer opbrengs, siektes en die prys wat die boer vir die koring kry, begin nou ook ʼn probleem raak. Koring met ʼn hoër opbrengspotensiaal is noodsaaklik.

Die bedryf is noodsaaklik

In die Wes-Kaap is daar egter min of geen alternatiewe gewasse en bly dit lewensnoodsaaklik vir die graanboere en veral die plattelandse gemeenskappe waar landbou die meeste werkgeleenthede verskaf, dat die bedryf nie ten grond gaan nie.

As koring uit die Wes-Kaap verdwyn, beteken dit die einde van die meeste graanboere daar. Daar sal na permanente gewasse oorgeskakel moet word, wat werkgeleenthede gaan knou, boere se kontantvloei onder baie groot druk gaan plaas weens die lang oorskakelingstyd en die landelike gemeenskap in ʼn sosiale moeras sal dompel.

Ten opsigte van die ekonomie van koringverbouing is so lank op gehalte gefokus dat opbrengs agterweë gebly het. Dit is ook so dat gehalte en opbrengs negatief gekorreleer is. Hoe meer vir gehalte geselekteer word, hoe moeiliker is dit om die opbrengspotensiaal te verhoog. Dit het daartoe gelei dat Suid-Afrika vandag koring van die beste gehalte ten opsigte van maal- en bak-eienskappe het, maar met ʼn relatiewe lae opbrengs daarvoor moet betaal.

Statutêre heffing op koring

As die Suid-Afrikaanse koringbedryf verder agteruit gaan, hou dit ʼn groot bedreiging vir die land se voedselsekerheid in. Brood is ʼn stapelvoedsel en as alle koring ingevoer moet word, is die land uitgelewer aan beskikbaarheid in die res van die wêreld waar koring van goeie gehalte baie duur is. Tydens die internasionale finansiële krisis in 2008/9, het baie lande hul koringuitvoer gestaak en was koring skaars en duur. Sonder ʼn eie koringbedryf gee Suid-Afrika ʼn groot deel van sy voedselsekerheid prys.

Dit alles het Graan SA aan die werk laat spring om planne te beraam om die ramp af te weer. In 2012 het die Koringforum besluit ʼn geskikte befondsing-model vir saadteling is nodig en sedertdien is besluit ʼn statutêre heffing op alle koring word by die eerste leweringspunt gehef om tantieme te kan betaal vir nuwe navorsing en tegnologie om nuwe kultivars te voorsien.

Omdat koring ʼn oop-bestuifde gewas is, is die nageslag dieselfde as die ouers en dit stel boere in staat om saad terug te hou wat die verkope van die duur geteelde saad knou en meebring dat saadmaatskappye en -telers nie maklik die geld wat hulle in die ontwikkeling van kultivars gesteek het, kan terugkry nie. Dit het ook meegebring dat Suid-Afrikaanse boere nie nou toegang het tot nuwe, beter landbouverwante intellektuele eiendom wat feitlik wêreldwyd in die saadbedryf beskikbaar is nie.

Die belangegroepe in die koring-waardeketting het hierop die Teling- en Tegnologie-heffingskomitee gestig wat die verantwoordelikheid van befondsing van teling grootliks uit die hande van die Wintergraantrust (WGT) oorgeneem het. Stelsels en regulasies is ingestel om die ou heffing vir die WGT en die nuwe heffing afsonderlik en akkuraat in te samel en te bestuur.

Volhoubare navorsingsfondse

Die oogmerk van die stappe was die daarstelling van volhoubare navorsingsfondse vir oop-bestuifde gewasse om navorsing oor saad vir dié gewasse te stimuleer tot voordeel van die hele waardeketting. Die heffing is nou R25 per ton.

Die heffing sal aanvanklik vir saadontwikkeling vir koring en gars gebruik word en ander gewasse sal volg met sojabone waarskynlik volgende. Die geld wat met die heffing ingesamel word, sal gebruik word om kommersiële saadmaatskappye, want tans geen inkomste uit die terughou van saad kry nie, te vergoed in verhouding tot die voordele wat hulle aan die bedryf lewer. Dit sal alle ander tantieme en/of heffings wat boere vir geregistreerde saad moet betaal, vervang.

Om die stelsel in werking te stel, is ʼn nie-winsgewende maatskappy gestig wat as insamelingsagent en administrateur sal optree. Verteenwoordigers van al die belanghebbendes in die waardeketting van oop-bestuifde gewasse dien in die direksie van dié maatskappy.

Die heffing sal maandeliks by die eerste verkoopspunt ingesamel en aan die nie-winsgewende maatskappy oorbetaal word wat dit veilig in trust sal hou. Dié geld sal, ná aftrekking van ʼn administrasiefooi, een maal per jaar aan die saadmaatskappye in verhouding tot hul markaandeel uitbetaal word.

Die aanbeveling aan die leiers van al die oop-bestuifde kultivars van landbougewasse is dat die kommersiële saadmaatskappye regverdig vergoed moet word vir die voordele wat hulle op die markplek lewer. Markaandeel van kommersiële kultivars is ʼn billike weerspieëling van die voordele wat hulle vir die boer en bedryf bewerkstellig.

Voordel vir die bedryf

Die stelsel is op internasionale modelle geskoei en veral die stelsel wat in Australië met groot vrug gebruik is. Dit hou verskeie voordele in, soos:

  • Alle boere, of hulle saad terughou of nie, betaal die heffing en help om geld beskikbaar te kry vir teling en tegnologie.
  • Kultivars met ʼn aanvaarbare opbrengspotensiaal sal gesog wees by die boere. Saadmaatskappye wat nie aan dié verwagting voldoen nie, sal deur ander vervang word wat ʼn oplossing aan die bedryf kan bied.
  • Markkragte sal die stelsel regstel en die aandag op die einddoel gevestig hou.
  • Invoertariewe gaan regstreeks na die staat se skatkis. Die nuwe heffing is net ʼn fraksie van die invoertarief, maar uiteindelik sal alle belanghebbendes en die verbruiker by dié stelsel baat vind.

Behou ’n hoë standaard

Die stelsel is noodsaaklik om die koringbedryf se agteruitgang te stuit. As goeie koring nie meer in Suid-Afrika beskikbaar is nie, sal dit baie sorge vir die land se voedselsekerheidbeleid meebring. Koring is een van die oudste landbougewasse in Suid-Afrika en die meulenaars- en bakkersbedryf is daarop ingestel om volhoubaar te funksioneer met die gehalte koring wat die plaaslike bedryf kon lewer.

Vir ʼn meule is ʼn goeie onttrekkings-persentasie wat hy uit elke koringkorrel kan haal, noodsaaklik om winsgewend te werk. Die bakker het goeie water-opneembaarheid van die meel, rekbaarheid van die deeg en ʼn kort mengtyd nodig. Nuwe tegnologie maak dit moontlik om dit ook met koring van effens laer gehalte te bereik, maar die verbruiker is baie puntenerig oor die brood wat hy kry.

Om al dié doeltellings sinvol te verwesenlik en die koringbedryf weer op ʼn gesonde pad te plaas, sal die graderingsvereistes, veral oor die proteïeninhoud en die intrinsieke proteïen-eienskappe, aangepas moet word om voorsiening te maak vir nuwe kultivars met ʼn hoër opbrengspotensiaal en ʼn effens laer proteïenwaarde wat steeds aan die vereistes van die bedryf en verbruiker voldoen.

Daar sal ook na die liggingsdifferensiaal wat die koringprys raak, gekyk moet word. Die beste sal wees as dit heeltemal afgeskaf word of minstens verskuif word van die leweringspunt op Randfontein na ʼn alternatiewe leweringspunt wat meer regverdig is.

Met dié nuwe stelsel gooi die koringbedryf spreekwoordelik sy brood op die water en glo hy dat daar ʼn beter toekoms voorlê wat die bedryf vir al die mense van die land in stand sal hou. – Andries Gouws, AgriOrbit

Vir meer inligting kontak Corné Louw op 082 820 5762 of corne@grainsa.co.za.